Die
stryd teen hidrobreking en skaliegasontginning in Suid-Afrika en die Karoo sal tot in die Grondwethof gevoer word, sê die
Treasure the Karoo Aksiegroep (TKAG).
Dié groep sê sedert die Kabinet Vrydag (7 September 2012) besluit het om die moratorium teen enige prospektering van skaliegas in die land en hidrobreking op te hef, is hy oorval deur internasionale organisasies wat hul steun aan die groep beloof.
“Ons hoef nie ons gesondheid, bestaan en omgewing op kort termyn prys te gee om die sakke van buitelandse oliemaatskappye te vul nie,” sê mnr.
Jonathan Deal, voorsitter van die TKAG, volgens ’n verklaring. Hy sê dit is duidelik dat wye teenkanting teen dié mynmetode en ontginning van dié gas bestaan.
Van die groepe wat hul steun rugbaar gemaak het, is Food & Water Watch, FrackAction, Waterdefense, Attac International and Attac France, Artists Against Fracking USA, aktiviste Mark Ruffalo en Josh Fox, Fracking Ireland en Lock-the-Gate van Australië. Plaaslik het die African Conservation Trust ook sy stem bygevoeg.
DemonstrasieDeal sê hulle beoog om op Saterdag (22 September 2012) as deel van internasionale Anti-Frackingdag ’n nasionale protesaksie teen die staat se besluit voor die parlement te hou. Hidrobreking is al deur 155 owerhede wêreldwyd verbied.
Hy sê die skade wat hidrobreking kan veroorsaak, sal nie herstelbaar wees nie en dat dit uiteindelik die belofte van werkskepping en gemeenskapsopheffing gaan pootjie. “Ons navorsing, asook ’n wettige, wetenskaplike verslag van die omgewingsbestuursplanne van die drie huidige aansoekers(Royal Dutch Shell, Bundu en Falcon) het fatale foute uitgewys.”
Dié foute beteken, volgens Deal, die aansoekers sal verskeie van die land se wette en regulasies oortree. “Ons kan eenvoudig nie toelaat dat dié bedreiging vir ons waterbronne, ons omgewing en die gesondheid van ons gemeenskappe uitgevoer word nie en ons sal die geveg tot in die hoogste hof neem.”
Intussen het Deal ook verwys na ’n belofte wat me.
Susan Shabangu, Minister van Minerale Hulpbronne, op 18 Augustys verlede jaar gemaak het. Sy het volgens Sapa toe gesê die moratorium is vir ’n verdere ses maande verleng vir die uitvoer van ’n openbare raadplegingsproses, maar vrae word gevra oor wanneer en of dié proses enigsins intussen plaasgevind het.
* Wat dink jy van die Regering se besluit? Vertel ons
hier.