Vermeulen reken hidrobreking sal nie grondwater besoedel nie.
Navorsing, of eksplorasie, is nodig om te bepaal of Suid-Afrika lewensvatbare skaliegasbronne het.
Die werklike omvang van Suid-Afrika se skaliegaspotensiaal en die moontlikheid dat dit ’n lewensvatbare energiebron is, sal eers bepaal kan word as kenners toegelaat word om navorsing, of te wel eksplorasie, te doen.
Dr. Danie Vermeulen, direkteur van grondwaterstudies by die Universiteit van die Vrystaat, sê dié mynaktiwiteit kan die ekonomiese landskap van Suid-Afrika verander.
Vermeulen het die navorsingsverslag wat Econometrix vroeër vanjaar bekend gestel het, aangehaal en verwys na die tussen 300 000 en 700 000 werksgeleenthede wat skaliegasontginning in die land kan skep. “Dit sal nie alles in die Karoo gebeur nie, want as jy na die groter prentjie kyk, sal jy sien dat ander geleenthede aan dié bedryf gekoppel kan word,” haal
Engineering News hom aan.
WaterDie land se watervoorraad en of genoeg water beskikbaar sal wees vir
hidrobreking, die metode wat vir skaliegasontginning gebruik word, is ’n kwessie wat Vermeulen bevraagteken. “Dit sal ook nie bekend wees totdat navorsing uitgevoer kan word nie.”
Hidrobreking gebruik, volgens Vermeuelen, wel minder water as die ontginning van ander minerale, soos steenkool, maar dit sal in een van die droogste dele van die land onderneem word. Hy sê die metode sal nie die grondwater van die gebied besoedel nie, want die boor van die putte vir skaliegas gaan baie dieper as grondwatervlakke.
Die oppervlakte wat deur hidrobreking ontwrig word, kan volgens Vermeulen ten volle herstel word, “hoewel die chemikalieë wat in die aardkors ingepomp word, nooit verwyder kan word nie. Ek ondersteun skaliegasontginning, want ons het energie in dié land nodig.”
Bron:
Engineering News