Die KZN NoTill-klub se simposuim. Foto: KZN No Till Klub
Kleinskaalse boere kry feitlik geen hulp van voorligters van die Departement van Landbou nie, sê ’n boer van Ladysmith.
’n Kleinboer van ’n kommunale gebied naby Bergville, KwaZulu-Natal, het op die jaarlikse geenbewerking-konferensie by Drakensville kaalvuis onder die Regering se landbouvoorligters ingeklim.
Mnr. Nicolas Madondo het gesê kleinskaalse boere in kommunale gebiede kry niks van die Departement van Landbou nie omdat sy voorligters nie hul werk doen nie.
“Die regeringstelsel laat ons nie toe om self ons voorleggings of sakeplanne aan die Departement van Landbou voor te lê nie. Ons moet via die voorligter gaan. Hy of sy moet dit vir jou doen en as hy of sy nie wil nie, kry jy niks van die Regering nie. Jy moet wag en hom of haar probeer oortuig om dit vir jou te doen.”
Hy het bygevoeg dat dié amptenare wat wel gestuur word om hulle te help, met hul eie idees daar aankom en nie bereid is om te luister na wat die boere wil hê en nodig het nie.
Madondo het op die konferensie vertel hoe hy en sy medeboere met die hulp van die Landbounavorsingsraad na geenbewerking omgeskakel het. Hulle plant mielies op landjies van 1 ha tot 4 ha in die Drakensberge, wat nie vir trekkers toeganklik is nie.
Mnr. Steve Morris, voorsitter van die Geenbewerkingsklub wat die konferensie aangebied het, het ’n beroep op regeringafgevaardigdes gedoen om Madondo se boodskap oor te dra. “Het julle gehoor wat hy gesê het? Het julle gehoor hy kla dat julle nie na hulle luister nie? Laat ons asseblief toe om kwessies soos dié as boere te bespreek en nie in ’n politieke konteks nie.”