Boere in die Delmas-Omgewing is baie bekommerd oor die invloed wat mynbesoedeling op watergehalte en gevolglik voeselproduksie in die land kan hê.
Volgens mnr. Peet Bezuidenhout, ‘n komiteelid van ‘n waterforum op Delmas, wil hulle die erns van die situasie onder mense se aandag bring.
“Kenners wat die invloed van mynaktiwiteite op ons omgewing ondersoek het, het bevind dat veral oopgroefmyne ‘n uitwerking op watergehalte het. Sodra die grond wat oopgegrawe word, met suurstof en lig in aanraking kom, vorm dit twee sure wat in besproeiingswater beland. Die sure kan deur gewasse opgeneem word, wat op die ou end tot kanker by die mens kan lei,” sé Bezuidenhout.
Suur giftiger as slanggif
’n Druppel van een van hierdie sure is giftiger as die gif van ‘n slang, en van die wetenskaplikes het bevind dat, sou daar nie iets daadwerklik aan die besoedeling gedoen word nie, die land moontlik binne 10 tot 15 jaar nie meer bruikbare water gaan hê nie. En, die besoedeling kan ook ‘n effek op voedselsekerheid hê, sê hy.
Volgens Bezuidenhout is hulle bekommerd oor die feit dat verskeie myne in die omgewing nie hulle omgewings instandhoudingsplanne toepas nie, en nie water suiwer nie. Derhalwe hou die forum ‘n vergadering met verskeie belangegroepe om die invloed van die besoedeling te bespreek en moontlik op ‘n toekomstige plan van aksie te besluit.
“Ons gaan ook vir die afgevaardigdes by die vergadering wys waar water besoedel word, waar sinkgate lê en waar mynhope brand”, sê Bezuidenhout.
17 Mei 2010