Koringtarief laagste in 18 maande

Deur Jeanne van der Merwe
13 September 2017
Die nuwe korintarief is uit en dit is láág.

Die nuwe koring-invoertarief is Maandag afgekondig, en teen R379,34 per ton is dit nagenoeg 60% laer as die vorige tarief, en die laagste sedert Februarie 2015.

Dié lae tarief, gepaardgaande met die swak toestand van die koringoes, gaan waarskynlik lei tot ’n beduidende styging in koring-invoer. Dr. Dirk Strydom, ekonoom by Graan SA, sê die huidige tarief is al op 11 Julie gesneller.

“So ’n ‘sneller’ gaan deur ’n proses van ontleding tussen verskeie staatsdepartemente voordat dit afgekondig word, wat reg is. Ons uitdagings is dat daar binne die mark onsekerheid ontstaan oor presies wanneer die aankondiging gaan plaasvind.

Konsekwentheid
“Daar is nie tans ’n sisteem in plek wat konsekwentheid verseker nie. Soms vat dit 42 werksdae en ander kere kan dit tot oor die 90 werksdae behels.

“In die onlangse geval is was daar verskeie ‘snellers’ – R379.34, R752.35 en R909,99 – en die vraag bly wanneer gaan watter publikasie plaasvind. In werklikheid behoort die tarief volgens huidige internasionale markpryse teen ’n tarief van R909 te verhandel, maar die huidige tarief is slegs R379,34, wat baie verwarring veroorsaak en bemarking bemoeilik.

“Dus is die groot vraag om net sekerheid te skep deur ’n goeie sisteem met riglyne. As ’n mens weet binne byvoorbeeld 40 werksdae (ná ’n nuwe tarief gesneller word) gaan daar ’n afkondiging plaasvind, sal daar al baie meer sekerheid wees en sal dit besluitneming vergemaklik.

“Ons praat tans met die owerhede, hul moet analises doen om seker te maak die tarief is in orde volgens die wet en verstaan dat dit nie net ʼn aftekenproses is nie. In Europese markte gebeur die proses binne ’n dag. Ons versoek wel dat die proses hersien word en dat duplikasie tussen departemente uitgesny word,” sê hy.


Kommentaar

Een kommentaar op “Koringtarief laagste in 18 maande

  1. Sensei
    Sensei

    Die Europese en Amerikaanse koringprodusent wat in hektare vergelyk met die gemiddelde Suid Afrikaanse produsent, ontvang verskeie voordele van die staat wat in totaal R1.5 miljoen per jaar beloop, voordat hy enige koring verkoop.

    Dit is eenvoudig oor die langer termyn onmoontlik vir die plaaslike produsent om teen oorsese regerings te kompeteer. Met die huidige lae reele pryse neem dit net een swak oes om die bedryf onherstelbare skade te berokken. Dit is waar ons nou is in die Wes- en Suid Kaap, met n graanbedryf wat ‘n onherstelbare knou gekry het.

    Ons kinders gaan met toeriste boer (wildplase) op die lande waar daar tans koring en gars staan.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels