Kuruman onder kwarantyn vir perdesiekte

Deur Amelia Genis
11 Januarie 2017
ʼn Moontlike geval van perdesiekte is by Kuruman aangemeld.

’n Gebied van 30 km rondom die Noord-Kaapse dorp Kuruman is onder kwarantyn nadat ʼn moontlike geval van perdesiekte daar aangemeld is.

Dit beteken dat perde of donkies nie in- of uit die gebied beweeg mag word nie tot verdere kennisgewing.

Mnr. Phemelo Manankong, kommunikasiebeampte van die Noord-Kaapse departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê die departement se veeartsenydiens het monsters by drie perde geneem en na die Onderstepoort-laboratorium gestuur om getoets te word.

Uitslag van die toets
“As die uitslag van die toets negatief is, sal die veeartsenydiens die kwarantyn ophef. As die uitslag positief is, sal die kwarantyn vir 60 dae nadat die laaste perd van die siekte gevrek het, geld.”

Perdesiekte word veroorsaak deur ’n virus wat deur muggies oorgedra word. Simptome by perde sluit in asemhalingsprobleme, ’n geswolle hoof, skuim by die neus en skielike vrekte.

Manankong sê die departement se raad aan perde-eienaars is om te verhoed dat muggies die perde steek, en, hul perde jaarliks in te ent teen die siekte. “Dis raadsaam om perde tussen Julie en September in te ent en sodoende te help dat hulle immuniteit opbou voordat muggies in die lente aktief word.”

* Lees ook: Beweging van perde tydens perdesiekte-uitbreek


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels