Bitterlik lae temperature is algemeen vir dié tyd van die jaar in KwaZulu-Natal se Middelland, met die kwik wat tot -14 °C kan daal.
Mnr. Steve Morris, voorsitter van die provinsiale
Geenbewerkingkomitee, sê hulle is al gewoond aan wintersdae wat
bitter koud begin, net om teen etenstyd tussen 21 °C en 25 °C te bereik. “Jy pas maar jou boerderymetodes by die temperatuur aan. Ons is gelukkig al gewoond daaraan en voorbereid daarop.”
“In dieselfde temperature moet ons baie keer ook weerstand bied teen winde en brande,” vertel Morris.
Gewasse en diereDié weerstoestande het nie ’n erg ongunstige invloed op gewasse en vee in die omgewing nie. Morris sê die mielies wat op die land gestaan het, is óf reeds gestroop of hulle het reeds verdroog, so geen ernstige verliese word verwag nie.
“Die weiding se groei word wel deur dié toestande verlangsaam,” verduidelik Morris. Mnr. Brandon Kart, ’n melkboer van die plaas
Fairacres, sê boere in dié gebied ervaar nie tans ’n krisis met voervoorrade nie. “Jou weiding kry maar ’n knou en jy moet ekstra voer gee omdat die diere meer energie moet gebruik om warm te bly en te produseer.”
Kart sê die melkkoeie en beeste hanteer dié weer goed mits hulle droog bly. Melkkoeie se produksie neem altyd af in die winter, en Kart sê dié daling hang van plaas tot plaas af aangesien elke boer ander metodes vir aanvullende voer volg.