Mnr. Pravin Gordhan. Foto: MONEY TRANSFER
Die belangrikheid van die landbou kry nie genoeg erkenning in Suid-Afrika nie, sê die Minister van Finansies.
Voldoende erkenning vir die belangrikheid van die landbou bestaan nie in Suid-Afrika nie, en kos, omdat dit meestal verwerk is, word as vanselfsprekend aanvaar. Waar dit vandaan kom, maak nie vir mense saak nie, sê mnr. Pravin Gordhan, Minister van Finansies.
Hy het in Pretoria by ’n AgBiz (Landboubesigheidskamer) werksessie oor finansiering vir die ontwikkelende landbou gesê die landbou was egter nog altyd ’n baie integrale deel van die land se ekonomie en ook deel van die Suid-Afrikaanse samelewing. ’n Groot aantal mense is regstreeks of onregstreeks afhanklik van toegang tot een of ander vorm van die landbou.
Dit is ook arbeidsintensief en verskaf werk aan sowat 10% van die bevolking al dra dit net sowat 2% regstreeks by tot die BBP.
Landbou kan homself beter aanbied
“Daar is goeie landbouleiers, maar ek dink die landbousektor kan baie meer doen om mense te laat verstaan waaroor dit gaan, wat die probleme is, wat die potensiaal is en wat sy rol is. Daar is uitstekende werk wat gedoen word maar onder die tafel bly. Mense moet meer bewus daarvan gemaak word. Dan sal daar meer empatie en begrip vir die sektor wees.”
Hy sê daar is drie uitdagings rondom finansiering vir die landbousektor. Dit sluit in die noodsaaklik om voldoende versekeringsprodukte vir kleinskaalse boere te ontwikkel, die noodsaaklikheid om langtermynkrediet teen gunstige koerse te voorsien en ook finansieringsinstansies se bydrae om kapasiteit te ontwikkel.
Hy het betrokkenes in die landbousektor genooi om om hulle menings oor finansiering te koördineer en met voorstelle daaroor na die Tesourie te kom.