“Die landbou kan nooit onderskat word nie, veral nie as ’n mens daarna kyk as ’n bedryf wat op die ouend die hart van elke gemeenskap en huishouding word op die vlak van voedselsekuriteit nie. Wat meer wil jy hê in die lewe as voedselsekerheid en toegang tot water?”
Dit is een van die stellings wat mnr. Derek Hanekom, Adjunkminister van Wetenskap en Tegnologie, tydens die bekendstelling van die Tshwane Animal Health Cluster gemaak het.
Die Tegnologie Innoveringsagentskap (TIA) is die dryfveer agter die groep, en wil daarmee die land se dieregesondheidsbedryf verbeter en internasionaal mededingend maak.
Landswye inisiatief
Volgens Hanekom is dieregesondheid ’n integrale deel van die landbou en die ekonomie. Hy het weens dié rede die TIA en die groep aangemoedig om hul werksaamhede nie net op een metropolitaanse area (Tshwane) te fokus nie, maar om dit op ’n landswye inisiatief te maak.
Die lewende hawe-bedryf in Suid-Afrika is baie belangrik, sê Hanekom. “Dit vervul nie net ’n groot rol in die kommersiële sektor nie, dit is ook op grondvlak baie belangrik vir landelike gemeenskappe wat vee aanhou om hulleself te onderhou.”
Hanekom sê nie net dieregesondheid moet verbeter word nie, maar meer navorsing is nodig oor grasvlaktes en hoe om maksimum produksie uit dié grasvelde te put. “Dit is nodig aangesien die meeste van die land se landbougrond geskik is vir veeproduksie en -boerdery.”
Alle rolspelers wat by die groep betrokke is, is ook aangemoedig om die onus op hulself te neem om die samelewing, gemeenskappe en verbruikers in te lig oor die belangrikheid van die lewende hawe-bedryf vir die land.

* Mnr. Derek Hanekom, Adjunkminister van Wetenskap en Tegnologie, is Woensdag, 3 Oktober 2012, deur die Technology Innovation Agency (TIA) bedank vir sy toespraak tydens die bekendstelling van die Tshwane Animal Health Cluster by die Irene Melkplaas in Centurion deur ’n kalf aan hom te skenk. Die kalf, ook Derek, is ses dae tevore gebore. Derek sal op die plaas aanbly.
Byskrif: Van links op die foto is mnr. Thabo Mdluli, seremoniemeester, dr. Sibongile Gumbi,verteenwoordiger van TIA, ’n plaaswerker van Irene Melkplaas en Adjunkminister Derek Hanekom, by Derek, die kalf.