Landbouveterane trek in Klerksdorp saam

Deur Verslaggewer
11 September 2017
Uitsonderlike landboutoerusting – oud en nuut – is vandeesmaand te sien by die tweejaarlikse Savtek-skou.

Savtek, die organisasie wat hom beywer vir die bewaring van Suid-Afrika se meganiese landbou-erfenis, se nasionale skou word van 22 tot 25 September op Klerksdorp in Noordwes gehou. Op dié tweejaarlikse gebeurtenis word die beste gerestoureerde veteraan-trekkers, -enjins en landboutoerusting uitgestal en beoordeel.

Veel meer as trekkers en enjins word landwyd deur lede van die SA Federasie van Veteraantrekker-en-enjinklubs versamel, gerestoureer en by skoue vertoon en gedemonstreer. Besoekers sal vanjaar kan sien hoe mielies met stokou masjiene gedors, afgemaak en gemaal word.

Die Noordwes-klub, wat vanjaar die skou in samewerking met die Hoërskool Wesvalia op die skool se sportterrein reël, kombineer die oue met die nuwe, en moderne voertuie, trekkers en landboutoerusting word ook uitgestal.

LEES OOK: Verkyk jou aan dié veteraantrekkers

Heerlike program
Interessante programitems is ’n verskeidenheid trekkerspeletjies en die trek van ’n sleeplas om vas te stel watter veteraantrekker die sterkste is. Op die gewilde start parade word die verskillende metodes gedemonstreer waarop trekkers meer as 60 jaar gelede aan die gang gesit is.

Buiten ’n optog deur die dorp is nog items op die skouspyskaart ’n skaaphondvertoning, konserte van Jay en Leanie May (Vrydagaand) en Bok van Blerk (Saterdagaand), en ’n groot verskeidenheid stalletjies.

Tien landwye Savtek-klubs beywer hulle saam met instellings soos die Willem Prinsloo-landboumuseum in Pretoria, die Kleinplasie-opelugmuseum by Worcester, Baynesfield naby Pietermaritzburg en Sandstone Estates naby Ficksburg, vir die behoud van die Suid-Afrikaanse landbou-erfenis.

Navrae: Mnr. Jaco Gouws, sel 083 397 4277.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels