Mnr. Kobus Lindeque van Monsanto Afrika is as SA se topbaas aangewys.
Mnr. Kobus Lindeque, area-direkteur vir Monsanto Afrika, is as 2012 se topbaas aangewys in die Baas van die jaar-kompetisie.
Hy het gister by
Monte Casino in Johannesburg die eerbewys as die Baas van die Jaar ontvang.
‘‘Ek moet erken, dit voel baie lekker om só ’n toekenning te ontvang,’’ sê Lindeque. ‘‘Om as dié Baas van die Jaar in die hele Suid-Afrika aangewys te word, is ’n ongelooflike eer. Ek is baie trots daarop. Ek werk hard daaraan om ’n goeie leier te wees. Dit beteken baie dat my werksmense my benoem het, want dit is eintlik my eie organisasie wat dié eer moontlik gemaak het.’’
Lindeque meen dat dié eer ook ’n
pluimpie in Monsanto se hoed is. ‘‘Die maatskappy is op leiersontwikkeling ingestel en ek dink dat dié tipe eerbewys ’n erkenning is dat die huidige programme besig is om te werk.’’
Eienskappe van 'n goeie leierHy sê dat ’n goeie leier een is wat aan sy of haar vermoë om jong leiers te identifiseer en te ontwikkel, gekenmerk word. ‘‘Ek dink nie daar word genoeg gedoen om nuwe leiers te identifiseer en in die regte rigting te stuur, sodat hulle hul passie kan uitleef nie.’’
Lindeque glo dat leiers só ontwikkel moet word dat hulle geleenthede in Afrika kan raaksien en ontgin.
Dit is die 23ste jaar wat dié kompetisie plaasvind. Werknemers uit alle besigheidsektore kan hul hoof vir dié eer benoem.
Dit is maar die tweede keer dat iemand uit die landbouwaardeketting dié gesogte toekenning ontvang. In 2008 het mnr. Kgosientso Ramokgopa, destyds die uitvoerende hoof van die Johannesburgse varsproduktemark die eerbewys ontvang.