Mnr. Bertus de Jongh, besturende direkteur van die
Melkprodusente-organisasie (MPO), het gesê ondanks die insinking in die wêreldekonomie, het die bedryf redelik ongeskonde daarvan afgekom en suiwelverbruik styg wêreldwyd.
“Ons is in ’n robuuste bedryf en die gesondheidsbesware wat deur sommige dieetkundiges met betrekking tot die gebruik van dierlike proteïene voorgehou is, taan vinnig. Daar is al hoe meer wetenskaplikes,
soos prof. Tim Noakes van die Instituut van Sportwetenskap in Kaapstad, wat die gesondheidsaspekte van ’n
proteïenryke dieet benadruk.”
De Jongh sê Suid-Afrika is in ’n internasionale mededingende bedryf met ’n groot groeipotensiaal – veral in die res van Afrika. “Ons boere moet egter besef dat die bedryf siklies van aard is en dat pryse nie met ’n reguit lyn aanhou styg nie.”
Beskerm landbouhulpbronneHy het ’n ernstige beroep op die Regering gedoen om meer te doen om landbouhulpbronne te beskerm.
“Doen hy dit nie, gaan daar teen 2030
te min kos wees om die bevolking mee te voed. Die antwoord lê nie in kleinboere nie. As ons opkomende boere wil vestig, moet dit op groot skaal gedoen word. In die
suiwelbedryf is dit die skaalekonomie wat boere in staat stel om staande te bly.
"As boere nie uit eie reg verder kan uitbrei nie, moet hulle oorweeg om met ander produsente in groepsverband saam te werk om goedkoper produksiemiddele te beding.
“Hulle kan ook die verspreiding van hul eie melk oorweeg om ’n groter deel van die verbruikersrand in hul sak te steek.” Hy het aan
Landbouweekblad gesê ondanks ’n styging van 25% in die MPO se ledegeld (die eerste keer in 19 jaar) het reeds meer 80% van alle melkboere vorms onderteken om 0,5 sent per liter vanaf 1 Julie van hul melktjeks oor te betaal.