‘n Spesialis-speurder van die Valke lei ’n ondersoek na onder meer bewerings dat ’n bende, genaamd die Izinyokas (Slange), ’n skrikbewind in en om Trompsburg voer. Hy lei ook die ondersoek na ’n beweerde moordlys met die name van plase wat glo nog aangeval gaan word.
Dit is deel van die ondersoek na die wrede dubbele bylmoord op mnr. Johan en me. Cecile Fourie in September op hul plaas Knoppe, buite dié Suid-Vrystaatse dorp.
Kapt. Ruhlene Kuhn, polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig dat die Valke-speurder aan die hoof van die ondersoek staan. Sy het benadruk dat geen bewyse van die beweerde bende en moordlys nog gevind is nie, maar dit is van die moontlikhede wat ondersoek word. Gerugte oor die bende en moordlys het ná die Fourie-moorde die ronde begin doen.
Ook ander moorde?
Daar word beweer dat die Izinyokas nie net vir dié jongste dubbelmoord verantwoordelik was nie, maar ook betrokke kon wees by die moorde op mnr. Jan en me. Johanna Greyling in 2006 in dié distrik en die aanval op die leierboer mnr. Flip Henning in 2007.
Intussen het ’n gemeenskapsleier van die woonbuurt Madikgetla in Trompsburg aan Landbouweekblad bevestig dat hulle die laaste paar jaar deur die Izinyokas geteister word. Sy wou uit vrees vir weerwraak nie haar naam genoem hê nie.
Die bendelede is meestal werklose, jong mans tussen 18 en 35 jaar, het die vrou gesê. Sy het bygevoeg dat die bende sy bedrywighede die laaste tyd klaarblyklik vir eers gestaak het. Sy vermoed dit is omdat Madikgetla-inwoners ná die Fourie-moorde sterk in die openbaar hul misnoeë met die voortgesette teistering van wit en swart te kenne gegee het.
Madikgetla-inwoners het nog met elke hofverskyning van die drie verdagtes in groot getalle na die hof opgetrek en teen borgtog en misdaad betoog.