“Die Melkprodusente-organisasie (MPO) deel melkprodusente-organisasies in die Europese Unie se kommer oor die uitwerking van gesubsidieerde melkuitvoere op veral ontwikkelende lande se suiwelbedrywe, maar kan nie by suiwelpolitiek in die EU betrokke te raak nie,” sê mnr. Bertus de Jongh, hoofuitvoerende beampte van die MPO, in reaksie op die voortgesette protesaksies deur melkprodusente in die Europese Unie.
“Die MPO het empatie met die swaarkry van melkprodusente regoor die wêreld, maar beskik nie oor genoeg kennis en inligting om betrokke te raak by die interne suiwelpolitiek van ander lande nie. Suid-Afrikaanse omstandighede verskil aansienlik van dié in Europa, waar kwotas en staatsubsidies ’n groot rol in die melkbedryf speel. Afrika word ook gekenmerk aan sy reuse-voedseltekorte en in die lig van hierdie situasie, kan die MPO hom ook nie uitspreek ten gunste van melkverspilling nie.”
Tydens die Internasionale Suiwelfederasie se pas-afgelope internasionale suiwelspitsberaad in Berlyn, het die MPO met verskeie rolspelers in die Duitse melkbedryf gesels. Volgens De Jongh is dit duidelik dat dié bedryf in Duitsland groot skade berokken is deur die voortgesette protesaksie. Suiwelverbruik het gedaal en produsentegeledere is verdeel tussen radikale en gematigde produsente.
Mnr. Thorkild Rasmussen, hoof van die EU Kommissie se suiwelbeleidsafdeling, het by die beraad beklemtoon dat die EU se suiwelbeleid die belange van melkprodusente op die hart dra en dat die bestaande suiwelbeleid tot uitvoer gebring sal word. Die standpunt is verlede week weer deur EU Kommissaris, me. Mariann Fischer Boel, in ‘n vergadering van EU-landbouministers bevestig.
13 Oktober 2009