Mnr. Kobus Lindeque, uitvoerende hoof van Monsanto.
Boere sal hul opbrengste oor die volgende twee dekades moet verdubbel, sê Monsanto-baas.
Mynboubedrywighede sluk daagliks 1 000 hektaar landbougrond wêreldwyd in.
Só het mnr. Kobus Lindeque, uitvoerende hoof van Monsanto se Afrika-bedrywighede, tydens die Suid-Afrikaanse Vroue-Landbou-unie (SAVLU) se jaarkongres gesê. Die kongres kom vandag by die Meulstroom Lodge, net duskant Bronkhorstspruit (Gauteng), tot ’n einde.
Om dinge te vererger is die wêreldwye bevolking besig om te groei, die menslike dieet vereis ál meer proteïene en verstedeliking vind al vinniger plaas.
Lindeque sê boere sal hul opbrengs binne die volgende twee dekades moet verdubbel, terwyl hulle slegs ’n derde van hul huidige produksiemiddele (kunsmis, grond en water) moet gebruik.
Na verwagting sal die wêreld se mielieproduksie teen 2030 met 76% moet verhoog. Verder sal koring met 40%, sojabone met 125%, katoen met 102% en rys met 28% moet styg om in die wêreld se behoeftes te voorsien.
“Dié feite laat ’n mens wonder waar ons landbougrond gaan kry om op te boer en waar ons boere gaan kry om op dié grond te boer,” sê Lindeque. Daarom meen hy dat tegnologie onontbeerlik is in hedendaagse landbouproduksie.
Lindeque sê jong mense in die stede sal oortuig moet word dat daar ’n toekoms in die landbou is en dat dit ’n opwindende, lonende loopbaan kan bied. Daarom moet daar verseker word dat hedendaagse boere se bankrekenings al beter moet lyk. Indien jong mense weet dat hulle geld kan maak in dié bedryf, sal meer daarin belang stel.