Die behoud van sy
dieregesondheidstatus is ’n belangrike faktor vir die oorlewing van die Namibiese lewendehawe- en landboubedryf. Die kwessie is onlangs in diepte op die Lewendehawe-produsente-organisasie (LPO) se kongres bespreek.
Die grootste deel van dié land se landboubedryf is afhanklik van die
uitvoer van vleis, met die lewendehawe-bedryf wat 2,2% tot die land se ekonomie bydra. Die bedryf het verlede jaar sowat N$2 164 miljoen tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) bygedra.
Mnr.
Harald Marggraff, bestuurder van bedrywe by die Namibiese Landbou-unie (NLU), sê verskeie uitdagings staar hulle in die gesig. Dr. Gideon Brückner, verteenwoordiger vir die Internasionale Organisasie vir Dieregesondheid (
OIE), het op die kongres gesê dat Namibië se veeartsenydienste
van die beste in Afrika is.
ProblemeVan die probleme wat uitgewys word, is dat Namibië, soos Suid-Afrika, ’n tekort aan veeartse het. Die handhawing van heinings en grensdrade vir gesondheidsdoeleindes is ook ’n probleem. “Dit is vir ons ook baie belangrik dat Suid-Afrika sy bek-en-klouseer-vrye status herwin en sy dieregesondheid behou,” merk Marggraff op.
Suid-Afrika het in April verlede jaar sy
bek-en-klouseer-vrye status verloor, en geen uitvoer van diere met gesplete hoewe mag sedertdien geskied nie. Marggraff sê dit veroorsaak tans vir boere in Namibië probleme ten opsigte van veral die invoer van teelmateriaal, wat gunstig vir hulle boerderye sal wees.
Brückner het ook beklemtoon dat vir Namibië om sy gesondheidstatus te behou, “dit noodsaaklik is dat betrokkenes hul verantwoordelikhede ernstig opneem.” Hy meen belanghebbendes moet nie net plaaslike veeartsenydienste ondersteun nie, maar ook die verwagtinge van internasionale gemeenskappe ten opsigte van voedselveiligheid en naspeurbaarheid aanvaar.
Verder waarsku Brückner die bedryf moet “onverwagte of onbeplande gebeure begin verwag,” hulle moet dit aanvaar en planne daarvoor beraam.