Drie beeste is die afgelope week op ’n melkplaas in die Hartebeeshoek-omgewing in Noordwes van kant gemaak nadat die
Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) glo op uitgeteerde diere afgekom het. Mnr. Nazareth Appalsamy, verteenwoordiger, het die Derrylin Jersey Melkplaas Dinsdag (18 September 2012) besoek nadat hy inligting ontvang het.
Appalsamy sê hy wag tans op uitslae van ’n veeartsondersoek wat Woensdag (19 September 2012) gedoen is. Hy vermoed dat sowat 80 beeste deur honger geaffekteer word. Die plaas se kuddegrootte word op sowat 300 beeste geskat.
DreigAppalsamy het die plaas Woensdag (19 September 2012) met ’n lasbrief besoek. Hy sê die boer moes glo deur ’n lid van die DBV in Tshwane in toom gehou word nadat die boer Appalsamy rondgestamp het.
“Die DBV-personeel moes die toneel verlaat met dreigemente deur die eienaar en sy vriende wat planne gehad het om die pad wat die DBV-personeel moes gebruik, te blokkeer,” lui ’n verklaring. Klagtes van dwarsboming van die gereg en dieremishandeling sal teen die boer gelê word, sê Appalsamy.
Die plaas lewer glo melk aan
Clover. Clover het bekend gemaak dat die maatskappy sy eie ondersoek na die situasie op die plaas gelas het.
Die boerdery verskaf volgens ’n korttermyn-kontrak melk aan die maatskappy, en Clover sê hy is baie bekommerd oor die aantygings wat gemaak word: “Clover vereis dat al sy produsente bestepraktyk-boerdery toepas en enige oortreding van dié beleide sal ernstig opgeneem word.”
Lees die opvolg artikel hier: Boer
eis verskoning van DBV