Nkwinti se DG moet afgedank word

Deur Joylene van Wyk
13 September 2017
Parlementslede het in die Nasionale Raad vir Provinsies gevra wat die stand van sake teen verskeie departemente se direkteur-generaals is.

Mnr. Mdu Shabane, direkteur-generaal (DG) van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, moet afgedank word.

Dié aanbeveling volg op Shabane se skorsing vir beweerde finansiële wanbestuur wat betrekking het op grondhervormingsprojekte binne die departement. Me. Faith Muthambi, Minister van Staatsdiens en Administrasie, het die aanbeveling bevestig toe sy vrae in die Nasionale Raad vir Provinsies (NRP) beantwoord het.

Shabane, wie se saak nou in die arbeidshof draai, is verlede jaar geskors. Parlementslede wat in die NRP dien, wou ook weet wat die situasie rakende die direkteur-generaals van landbou, bosbou en visserye, asook dié vir water en sanitasie is.

LEES OOK: Nkwinti skors sy DG

Vordering in sake
Muthambi het aangedui dat mnr. Mike Mlengana, geskorste DG van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, se tugverhoog nog hangende is. Ondersoeke na die bewerings teen hom word nog gedoen.

Volgens Muthambi is Mlengana geskors vir die beweerde wanaanwending van fondse, nalating om te voldoen aan die vereistes van die Wet op Finansiële Bestuur (PFMA), growwe ongehoorsaamheid rakende sy versuim om ander amptenare te skors en oortreding van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne.

Die geskorste DG vir water en sanitasie, mnr. Dan Mashitisho, se tugverhoor was op 8 September na 30 Oktober uitgestel. Landbou.com verstaan Mashitisho het glo nie ondersoeke na tenderongeruimdhede gefinaliseer nie. Muthambi het slegs aangedui dat sy skorsing weens “verskeie aanklagtes” is.

LEES OOK: Mlengana reageer op sy DG-skorsing


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels