Sowat 2 000 volstruise het in die Klein Karoo en die Suid-Kaap weens ‘n hittegolf gevrek.
Mnr. Anton Kruger, die hoof uitvoerende beampte van die Volstruisbedryfskamer, sê vier boere het meer as 200 volstruise verloor. Hy sê die hittegolf is ‘n jaarlikse verskynsel, aangesien Februarie hulle warmste maand is. “Ek het gaan terugkyk in ons media-argiewe, elke jaar rondom die 10de Februarie vrek ‘n groot aantal volstruise weens die hitte.”
Volgens Kruger koel dié diere af deur hulle monde oop te maak, maar wanneer die omgewing temperature van 45 grade Celsuis en hoër bereik, help dit hulle nie, en hulle organe gee in.”
Groot impak op die boere
Kruger sê jaarliks word nagenoeg 220 000 volstruise in Suid-Afrika geslag, so dié aantal vrektes het slegs sowat ‘n 1%-invloed op die land se totale produksie. Hy sê dit het wel ‘n groot impak op individuele boere, aangesien die gemiddelde prys vir ‘n volstruis R2 300 is.
Volgens Kruger is ‘n bykomende slag vir die boere dat verwerkers die afgelope maand hulle ingelig het dat daar ‘n 15%-daling in hulle pryse aan boere gaan wees. “Die vraag in Europa en Amerika bly hoog, maar daar is ‘n daling in pryse aan boere.”
Toekomstige produksie
Kruger sê 150 broeivolstruise het ook verlede week gevrek, en dit kan tot laer produksie lei. “ ‘n Broei-voël lê gewoonlik sowat 60 eiers per keer, maar slegs 20% van daardie eiers word volgroeide volstruise wat geslag kan word. Daar gaan nou dus minder eiers gelê word, wat ‘n utwerking op produksie kan hê.”
'n Broei-volstruis is sowat R5 000 werd.
Vandeesweek se temperature
Kruger sê temperature van rondom 40 grade Celsuis is vir dié week voorspel, en solank temperature in dié omgewing bly, behoort die voëls te oorleef. “Dis wanneer dit warmer as 45 of 50 grade Celsuis word wat daar regtig ‘n probleem is. Van die boere meet soms tot 55 grade Celsuis.”
Die karkasse van die dooie volstruise sal vir die vervaardiging van troeteldierkosse gebruik word.
15 Februarie 2010
Kommentaar
Ek dink dit is skokkend dat die boere NOG minder betaal word, te midde van al die swaar tye, terwyl ons verbruikers ook net al hoe meer moet uitvurk vir die stygende prys van hierdie vleis. Hoe werk dit dan nou?
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)