African Exploration Mining and Finance Corporation (AEMFC), die maatskappy in staatsbesit wat in die Wes-Kaapse wynlande minerale wil ontgin, se aansoek om so te maak is deur die Departement van Minerale Hulpbronne herroep.
Luidens ‘n berig in Die Burger sê adv. Sandile Nogxina, direkteur-generaal van minerale hulpbronne, die maatskappy het glo nadat hy die aansoek ingedien het, uitgevind die betrokke gebiede word aangewend vir wynbou. Volgens die berig sê Nogxina na aanleiding van sy gesprekke met die maatskappy gaan die aansoeke om te prospekteer in die Bottelary-gebied naby Stellenbosch, asook aan die voet van die Tygerberg, teruggetrek word.
“Soos ons verstaan, was die ontginningsaansoek deur AEMFC gebaseer op ‘n geologiese studie wat deur die maatskappy gedoen is. Hulle was nie bewus daarvan dat die grond vir wynproduksie gebruik word nie. Die maatskappy het eers ontdek daar was wynplase op die grond toe hulle met die konsultasieproses begin het. Daarom is dit onwaarskynlik dat hulle met die aansoek sal voortgaan,” Sê Mnr. Jeremy Michaels, hoof van kommunikasie en internasionale koördinering by die departement.
Lees ook:
Staat wil in Waterberg prospekteer
Geen agterdeur
Nogxina sê die mynboumaatskappy sal nie ’n “agterdeur” kan vind rakende die aansoek nie. “Die wetlike prosesse maak dit onwettig vir ons om so ’n aansoek toe te staan.” Kommer oor die Regering se vermoë om sulke aansoeke te hanteer, het egter opnuut opgevlam.
Die gemeenskap was baie ontsteld oor dié aansoeke en verskeie vergaderings is gehou om die situasie te bespreek. Die Demokratiese Alliansie het ook by die proses betrokke geraak. Die aansoek is wyd as ondeurdag en kortsigtig beskou.
Lees meer in Landbouweekblad.
11 Maart 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)