JAN CILLIERS
Die landbou-onderneming Afgri Bpk. het sy bedryfsinkomste vir die eerste ses maande van die jaar tot 31 Augustus met 38 % tot R2,516 miljard en sy handelswins met 27 % tot R174 miljoen verhoog.
Mnr. Jeff Wright, besturende direkteur van dié groep, sê die graanafdeling het 'n goeie ses maande gehad deur sy wins tot R86 miljoen te verdubbel. Die oorkoepelende handelsmarge het van 7,5 % tot 6,9 % gedaal. 'n Segmentele ontleding van die resultate toon dat Afgri Produkte met 73 % van die groeptotaal, die hoofverdiener van inkomste was. In dié afdeling was die bydrae van die hoëmarge-graanbedrywighede 68 %.
Afgri Produkte het sy inkomste met 35 % tot R1,428 miljard verhoog, maar winsgroei was meer beskeie op 13 % -- van R112 miljoen tot R127 miljoen -- weens 'n ooraanbod van braaikuikens wat tot 'n afname in marges gelei het.
Afgri Kapitaal, wat finansiële en risikobestuursoplossings aan boere, handelaars en landbouverwerkers verskaf, se wins het met 10 % gestyg. Terselfdertyd het Afgri Benodigdhede se wins met 53 % toegeneem. Hierdie afdeling verskaf 'n uitgebreide verskeidenheid produkte en dienste deur middel van 59 kleinhandelsafsetpunte.
Mnr. Wright sê die bestuur het hom op kontantvloei toegespits, gevolglik het die gunstige kontantvloei van die groep vir dié tydperk uit bedryfswerksaamhede en beleggings- en finansieringsbedrywighede R159 miljoen beloop. Dit is ná netto kapitaalbesteding van R50 miljoen en die terugkoop van Afgri-aandele teen R51 miljoen. In ooreenstemming met die program vir die terugkoop van aandele is 9,5 miljoen aandele teen gemiddeld R5,35 per aandeel teruggekoop.
Die gunstige kontantvloei het dit moontlik gemaak om die dividenddekking van 3 die vorige jaar tot 2,5 te verminder. Dit beteken die tussentydse dividend van 15,2 sent per aandeel is 54 % hoër as 'n jaar gelede.
Die netto tasbare batewaarde per aandeel was 424 sent aan die einde van die eerste ses maande van die finansiële jaar. Dit is 12 % hoër as 'n jaar gelede, het mnr. Wright gesê.
Intussen het mnr. Graham Ebedes, uitvoerende ondervoorsitter van Afgri, bekend gemaak dat sy maatskappy 'n kontantaanbod van R59 miljoen vir Laeveld Koöperatiewe Beleggings (LKB) gemaak het.
Hy sê 80 % van LKB se aandeelhouers het die transaksie goedgekeur en dit moet nou deur die mededingingstribunaal goedgekeur word.8 November 2002