|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 09:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Een van Suid-Afrika se grootste landboumaatskappye, Afgri, het begin om 13 van sy handelstakke in KwaZulu-Natal aan die Transvaalse Wattel Koöperasie, of die TWK, te verkoop. Luidens ‘n verklaring van die vakbond Solidariteit sluit dit onder meer die takke op Cedarville, Empangeni, Greytown, Howick, Kokstad, Pietermaritzburg en Underberg in.
Me. Ilze Nieuwoudt, woordvoerder vir die vakbond, sê dit is nog nie duidelik hoe dié stap die sowat 250 werkers wat by die takke werk, gaan raak nie. Sy sê die maatskappy beoog om die transaksie reeds teen Februarie volgende jaar by die Mededingingskommissie te laat goedkeur.
Intussen gaan die afleggingsproses van 32 werknemers van Afgri se finansiële afdeling steeds voort. Die eerste amptelike onderhandelings met die maatskappy begin vandag. Nieuwoudt sê hulle is nie net ontevrede met Afgri se besluit om die werkers af te lê nie, maar ook omdat die maatskappy, volgens hulle, nie die regte prosedure ingevolge Artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge gevolg het nie.
‘Hanteer die saak reg’
“Die maatskappy probeer bloot die proses deurdraf om so gou as moontlik van hierdie werknemers ontslae te raak en steur hom intussen nie aan die spesifieke wetgewing wat die proses bepaal nie. Solidariteit sal nou by die konsultasies druk op die maatskappy plaas in ʼn poging om die beoogde aflegging van lede daar af te weer.”
Volgens Nieuwoudt is hulle bekommerd dat Afgri die moontlike vermindering van werknemers by die takke wat hulle wil verkoop, op dieselfde manier sal benader. Die vakbond het Afgri versoek om dringend sy planne met die verkoop van die takke aan hom voor te lê. “As Solidariteit-lede deur die oorname van die takke geraak word, sal die vakbond minstens insae moet hê in die samestelling van nuwe diensvoorwaardes vir werknemers.”
Afgri beoog om die afleggings by sy finansiële afdeling reeds teen Februarie 2010 te finaliseer. Afgri het in Februarie 2008 ʼn Artikel 189-kennisgewing vir die aflegging van 220 werknemers by die maatskappy se handelstakke uitgereik, terwyl nog ʼn Artikel 189-kennisgewing vir die aflegging van 352 werknemers van die maatskappy se produksie-afdeling in Februarie vanjaar uitgereik is.
18 Desember 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Vir die manier waarop Afgri die afleggings hanteer het Solidariteit die wurm in die mielie prys aan Afgri toegeken. Luister na die hele toekening op www.solidariteitradio.co.za
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)