|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 09:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
’n Versoek dat plaasmoorde as ’n prioriteitsmisdaad verklaar word, is aan die Minister van Polisie gerig nadat die Potgieters se moordenaars gevonnis is.
AfriForum, die burgerregte-inisiatief van Solidariteit, sê hy verwelkom die ses beskuldigdes se vonnisse.
Twee van die beskuldigdes is drie keer lewenslange gevangenisstraf opgelê, twee ander het elk 30 jaar tronkstraf ontvang, nóg een lewenslank en die sesde is vir sewe jaar tronk toe gestuur.
Mnr. Attie Potgieter, sy vrou Wilma, en hulle tweejarige dogter, Wilmientjie, is in Desember verlede jaar wreed op die plaas Tweefontein naby Lindley vermoor.
Sterk boodskap
Mnr. Nantes Kelder, die hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê hoewel hierdie vonnisse nie die Potgieter-gesin sal terugbring nie, glo hy dat dit wel ’n sterk boodskap aan voornemende misdadigers sal stuur.
“Die hoë syfer en wreedheid van plaasaanvalle regoor Suid-Afrika noodsaak dit dat hierdie verskynsel deur die polisie tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar word. Hierdie sinnelose moorde mag nie vergeet word nie en die nalatenskap van die Potgieter-gesin moet gekoester word,” sê Kelder.
Barbaars, gruwelik
Intussen berig Volksblad (29 Julie 2011) dat regter G.F. Wright Donderdag (28 Julie 2011) in sy vonnisoplegging die moorde as wreed, barbaars, gruwelik, afgryslik en onnodig beskryf het. Volgens die berig is die ses moordenaars altesame 176 jaar tronkstraf opgelê.
Wright sê met die 151 kap- en steekwonde wat Potgieter opgedoen het, is hy as ’t ware doodgemartel. Hy’t ook gesê dat dit onnodig was dat Wilma en hul dogter doodgemaak is. Elkeen van hulle het glo ook ten minste een kapwond op hulle kop gehad.
“Die aanvallers kon maskers gedra het sodat hulle nie herken word nie,” lui die berig.
Bron: Volksblad
29 Julie 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)