|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 09:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
AfriForum wil weer met die ANC oor “Skiet die boer” praat, maar die organisasie sê hy sal nie die hofsaak laat vaar terwyl die ANC meen dit is aanvaarbaar om dié lied en slagspreuk op ’n roekelose wyse te gebruik nie.
Die haatspraak-hofsaak teen mnr. Julius Malema, die leier van die ANC-Jeugliga, is verlede week in die Gelykheidshof in Gauteng vir finale argumente uitgestel.
Luidens ’n verklaring sê AfriForum in die lig van die uitstel van die saak, sal hy weer met die ANC praat. “Ons kan egter nie die hofsaak aflas weens vae beloftes van gesprekke nie. Hierdie gesprekke sal nie as plaasvervanger vir die hofverrigtinge dien nie,” sê mnr. Ernst Roets, die adjunk uitvoerende hoof van die organisasie.
Skynheilige poging
Volgens die organisasie is Malema en die ANC se skielike oproep tot dialoog oor die gebruik van die lied, “’n skynheilige poging om hulleself as billik en versoenend aan die hof voor te hou. AfriForum Jeug se pogings om met Malema daaroor te praat, is met arrogansie en dreigemente begroet. Verder het die ANC in geen stadium in die verlede aangedui dat hy met AfriForum daaroor wil praat nie.”
Die organisasie meen die stap om Malema en die ANC in die hof tot verantwoording te roep, was die regte besluit. “Malema en die ANC se onverdraagsaamheid teenoor minderhede sal nie verdwyn as ʼn mens dit bloot ignoreer nie,” lui die verklaring.
Sterk saak
Die organisasie is vol vertroue dat hy ’n sterk saak teen Malema gestel het, veral weens die erkennings wat Malema tydens kruisverhoor gemaak het. “Tydens sy kruisverhoor het hy onder meer gesê dat die lied ook ’n hedendaagse betekenis het omdat die struggle, volgens hom, nog nie verby is nie.
Hy het ook erken dat die woord “(i)Bhunu” nie net na ’n onderdrukkingstelsel verwys nie, maar ook na mense wa,t volgens hom, die onderdrukkers is,”, aldus AfriForum.
26 April 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Ek het die oplossing : stuur vir Malema en genote na die Kongo - dan is ons ontslae van hom en hy het die plase waarna hy so smag !
Malema en die ANC se onverdraagsaamheid is nie net teenoor minderhede nie, maar veel erger teenoor die Grondwet en sy Handves van Menseregte. In die opsig is die stap om hul tot verantwoordelikheid in die Hof te roep, in landsbelang.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)