|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 09:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Afrika is nie 'n kopersmark nie. Dit is eerder 'n ontvanger van skenkerprodukte en sal só bly totdat Afrika-lande hul sake in orde kry. Afrika bied dus nie 'n mark vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte nie, het mnr. Bully Botma, voorsitter van Graan SA, by die Mega Week op Bredasdorp gesê.
Die haglike omstandighede in Zimbabwe is 'n duidelike bewys van wat verkeerd kan gaan in 'n land sonder dissipline binne sy regering en sy departement van reg en orde.
Die Suid-Afrikaanse landbou kan die volk voed, maar dan moet hy toegelaat word om te doen wat hy kan doen. Boere moet nie in die pad van tegnologiese ontwikkeling staan nie. Die mark sal dikteer wat geproduseer moet word en as die mark 'n geneties gewysigde produk wil hê, moet dit geproduseer word.
Mnr. Botma het gesê die toekoms van die graanbedryf sal op die volhoubare produksie van verskillende grane berus. Suid-Afrikaanse boere kan net hierin slaag as hulle ongehinderd kan voortgaan om te produseer in Suid-Afrika se moeilike klimaatstoestande. Hy haal sy hoed vir Suid-Afrikaanse boere af. Daar is nie nog sulke boere in die wêreld nie.
Boere moet egter toegelaat word om graan winsgewend te produseer, anders sal hulle nie op lang termyn kos aan die land se bevolking kan voorsien nie.
Hy is bekommerd dat die Regering produkte op die plaaslike mark sal stoot om pryse af te druk. Dit is die Regering se plig om onregverdige mededinging uit die mark te hou. Hoewel dit 'n ongewilde stelling vir honger mense is, het die Regering 'n groot verantwoordelikheid om toe te sien dat hoogs gesubsidieerde voedsel nie hier gestort word nie.
Mnr. Botma het ook gesê Suid-Afrika se boere sal moet besef waar hul verantwoordelikheid is. Dit begin by betrokkenheid op hul eie plase, gemeenskappe, landbou-organisasies en kerke. "Almal in die landbou moet hierby betrokke raak, dan sal ons winsgewend in ons land kan boer."
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24