Afrika soek SA boere

 

In China produseer elke boer elke dag kos vir 19 mense, ’n Indiese boer produseer elke dag kos vir 26 mense. In Suid-Afrika sorg elke kommersiële boer dat 1 500 mense elke dag kos kry, sê dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA.

“Dit is dié vermoë en kundigheid van Suid-Afrikaanse boere waarna minstens 12 Afrikalande vry. Selfs Libië en kol. Muammar Ghaddafi kyk nou suid vir hulp om sy staatsplase te privatiseer en werkbaar te kry. Suid-Afrikaanse boere is genooi om die moontlikhede te ondersoek.”

Dit is wyd bekend dat Suid-Afrikaanse boere die grootste deel van Afrika se kosmandjie produseer. De Jager het op Landbouweekblad en AMT se vooruitskouingskonferensie vir die landbou in Pretoria gesê besoeke en uitnodigings van ander Afrikalande aan Agri SA het die afgelope paar maande toegeneem.

Die jongste is van die Republiek van die Kongo (Brazzaville) waar 10 miljoen hektaar besproeibare grond beskikbaar is vir die landbou. ’n Beskermingsooreenkoms (Bippa) teen verlies van bates is reeds tussen die twee regerings onderteken.

Die Kongo se minister van landbou besoek Suid-Afrika vandeesmaand om ’n ooreenkoms met boere af te handel.

De Jager sê daar is groot belangstelling onder Suid-Afrikaanse boere vir sulke geleenthede elders - ’n databasis van meer as 1 700 boere is reeds opgestel.

“Afrika is ’n reusevasteland met ryk landbouhulpbronne. Iemand gaan dit gebruik, ons kan dit nie keer nie. Die Chinese is reeds oral. Gaan dit hulle wees of ons?”

Hy sê Agri SA “voer nie boere uit nie”, maar help hulle eerder om in ander markte te diversifiseer. “Dit gaan nie oor pessimisties wees oor Suid-Afrika nie, maar oor optimisties wees oor Afrika”.

1 Oktober 2009
 

4
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.