Die provinsiale landbou-organisasie Agri Mpumalanga het ingestem tot ’n proses van vrywillige likwidasie.
’n Gedoemde kunsmistransaksie van sowat R10 miljoen het tot dié stap aanleiding gegee. “Agri Mpumalanga plaas homself as ’t ware op die altaar om te verseker dat dié onaangename saak so gou moontlik en met die minste benadeling van betrokkenes besleg kan word,” het mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, aan Landbouweekblad gesê.
Mnr. Lourie Bosman, destydse hoofbestuurder van Agri Mpumalanga, het die organisasie in 2008 vertel van kunsmis wat teen R3 000 per ton in Durban te koop is. Sowat 50 boere wou van die kunsmis koop. Hulle het bestellings geplaas en geld by Agri Mpumalanga inbetaal wat aan die invoeragent Eurostar Trading oorbetaal is.
Klag van bedrog
Hoewel van die kunsmis gelewer is, het die grootste deel daarvan nooit die boere bereik nie. Agri Mpumalanga kon ook net ’n klein deel van die geld verhaal wat aan Eurostar Trading oorbetaal was. Ná verskeie mislukte onderhandelings het Agri Mpumalanga die kontrak met Eurostar Trading beëindig en is ’n bedrogklag en siviele eis aanhangig gemaak.
Dié agent is sedertdien onder likwidasie geplaas en stappe word gedoen om die geld te verhaal. Agri Mpumalanga se bestuur het in Februarie vanjaar ’n forensiese ondersoek gelas om te sien of die saak binne Agri Mpumalanga op die regte manier gehanteer is.
Die ondersoek is ook gedoen om ’n basis vir besluitneming oor verdere optrede daar te stel. Dit het daartoe gelei dat Agri Mpumalanga nou besluit het om moontlike dispute oor sy aanspreeklikheid te vermy deur homself vrywillig onder likwidasie te plaas.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 30 Julie 2010.
26 Julie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)