THEUNS BOTHA
Verskeie brandpunte in die landbou, waaronder Agri SA se geldelike penarie, sal op die jaarlikse kongres van Agri Oos-Kaap op 13 en 14 Augustus in Port Elizabeth bespreek word.
In 'n geslote bespreking sal die afgevaardigdes hulle moet uitspreek oor verskeie voorstelle oor hoe Agri SA voortaan geld gaan vind. Onder die voorstelle is dat Agri Oos-Kaap sy jaarlikse affiliasiegeld by Agri SA met 10 % verhoog, individuele lede regstreeks lid van Agri SA word en besighede toegelaat word om teen R1 000 as "Vriende van die Landbou" by Agri SA te registreer.
In nog 'n beskrywingspunt gaan die kongres vra dat deursigtige, streng finansiële maatreëls ingestel word om finansiële probleme te voorkom.
Die kongres gaan ook praat oor onder meer die stigting van 'n regshulpfonds vir Agri Oos-Kaap en die nadelige invloed wat die konsepwetgewing op munisipale eiendomsbelasting op die winsgewendheid van die landbou gaan hê, asook die swak toestand van paaie in die Oos-Kaap, duurder trekkerlisensies en die behoefte aan doeltreffender telekommunikasie.8 Augustus 2003