Agri SA het in 'n buitengewone stap bekend gemaak dat sy ledegeld byna sal moet verdubbel om finansieel te kan oorleef. Daarby gaan van sy bedrywighede afgeskaal word, terwyl sommige nie-winsgewende projekte gesluit is.
In 'n verdere dapper stap erken die organisasie dat daar leemtes in die administrasie van sy geld en leningspraktyke was. Eksterne kundigheid is in dié verband ingewin en voorstelle wat daaruit voortgevloei het, word nou toegepas. 'n Begrotings- en ouditkomitee is aangestel wat intensief na die organisasie se finansiële beheer omsien.
Ouditverslae toon nietemin dat alle interne transaksies geboekstaaf is.
Verhoogde affiliasiebydraes aan Agri SA is nou hoog op die agenda van die provinsiale landbou-uniekongresse wat verlede week in Mpumalanga begin het. Agri Mpumalanga se kongres het Agri SA se voorstel gunstig ontvang. Dié kongres het eenparig 'n voorstel aanvaar om volmag aan sy bestuur te gee om die verhoging van ledegelde te oorweeg om aan die finansieringsbehoefte van Agri SA te voldoen.
In die voorstel word gedifferensieerde ledegelde volgens die grootte van 'n boerdery oorweeg. Die kongres is ook ten gunste van 'n eenvoudiger invorderingstelsel van die verskillende bydraes wat landbou-organisasies van boere vra.
Benewens 'n verhoging van 10 % bo verlede jaar se bydraes, vra Agri SA ook dat provinsies gesamentlik 'n verdere R700 000 tot sy inkomste moet bydra. Soortgelyke versoeke geld vir gesamentlike bydraes van bedryfsorganisasies wat by Agri SA inskakel, asook vir die Landboubesigheidskamer (LBK).
Agri SA wil hiermee sy affiliasie-inkomste van R2,7 miljoen tot R4,8 miljoen verhoog.
"Die haalbaarheid van verhoogde affiliasiegelde berus op 'n goeie vlak van ingeligtheid by boere oor die bydrae van die georganiseerde landbou tot hul bestaansekerheid en welvaart," het mnr. Hans van der Merwe, hoof uitvoerende beampte van Agri SA, aan Landbouweekblad gesê.
"As argumentshalwe aanvaar word dat die bogenoemde affiliasiegeld deur 30 000 boere betaal word, verteenwoordig dit net R160 per boer per jaar. Dit is kleingeld, gegewe die bydrae wat die georganiseerde landbou op nasionale vlak in belang van die bestaansekerheid en winsgewendheid van kommersiële boere lewer."
Mnr. Van der Merwe sê dit blyk nou dat Agri SA sedert 1994 deurlopend van sy reserwes gebruik het om sy bedryfsrekening te balanseer. Terwyl uitgawes oor hierdie tydperk 'n volgehoue styging getoon het, was daar nie 'n soortgelyke toename in inkomste nie.
Hiermee saam het interne inkomstebronne ook 'n ál kleiner persentasie van inkomste verteenwoordig. In die 2002/03-boekjaar het dit 55,7 % van die organisasie se totale inkomste beloop. As die verhoogde affiliasiegelde realiseer, sal dit 66,2 % van inkomste verteenwoordig.
Naas onvoldoende affiliasiegelde het 'n verhoogde rentelas weens herstel- en instandhoudingskoste ná die 1994-brand in die SALU-gebou ook tot die finansiële verknorsing bygedra. Nie-winsgewende projekte was 'n ander rede, terwyl die afskaffing van statutêre heffings in 1996 ook gelei het tot inkomste-aanpassingsprobleme.
Mnr. Van der Merwe sê Agri SA het verskeie stappe gedoen om regstellings in sy inkomste en uitgawes aan te bring. Die eerste daarvan is om in die 2003/04-boekjaar sy administrasie-rekening te balanseer. Vir dié doel moet interne inkomste verhoog word. Daarby is verskeie ander maatreëls vir besparings op personeelkoste, vergaderingskoste en verminderde uitgawes van Agri SA se tydskrif, Agri, reeds in werking gestel.
Nie-winsgewende projekte soos Agri Info en Farmstay is reeds gesluit.
30 Mei 2003