JAN CILLIERS
Agri SA het die SA Polisiediens gevra om uitlatings van die Beweging vir Grondlose Mense (BGM) teen boere te ondersoek om te kyk of enige landswette oortree is en of teen dié beweging opgetree moet word.
Mnr. Japie Grobler, voorsitter van Agri SA, het gesê hy beskou dreigemente van die BGM dat hulle "plase van wit boere gaan afneem en hulle soos honde gaan wegjaag," asook dat hulle kaders oplei om boere te vermoor, in 'n baie ernstige lig. "Dit is niks anders as aanhitsing tot geweld nie," het Grobler gesê.
Hy het bygevoeg dat Agri SA met die samewerking van die polisie 'n dokument met riglyne oor die hantering van onwettige plaasbesettings aan al sy affiliasies beskikbaar gestel het. Boere word aangemoedig om hulself met dié riglyne vertroud te maak.
Grobler het gesê 'n brief is aan die Britse Hoëkommissaris in Suid-Afrika oorhandig oor die dreigemente van die BGM. Hy het verneem dat die BGM onder meer deur twee Britse organisasies gefinansier word, naamlik Oxfam en War on Want. "Die Britse regering word versoek om dié twee organisasies se moontlike betrokkenheid by die BGM te ondersoek met die oog daarop om dié ondersteuning te beëindig," het Grobler gesê.
Hy het gesê 'n afskrif van die brief is aan pres. Thabo Mbeki gestuur omdat die optrede van die BGM die oogmerke van die strategiese plan vir die landbou ondermyn.
Intussen het die TLU SA ook sy stem dik gemaak oor die uitlatings en dreigemente van die BGM. Mnr. Paul van der Walt, voorsitter van die TLU SA, het gesê die dreigemente van die BGM word gesien as 'n oorlogsverklaring teen boere en hy verwag van die polisie en die veiligheidsmagte om daadwerklik teen die beweging op te tree. 26 Maart 2004