Die saadmaatskappy Monsanto ontken bewerings dat hy goedkeuring van die Regering probeer kry om geneties gemodifiseerde (GM) koring in te voer en in Afrika te stort.
Mnr. Wally Green, Monsanto se streekbestuurder vir biotegnologie, sê die RR-koring, wat teen die onkruiddoder RoundupReady bestand is, is nêrens ter wêreld kommersieel beskikbaar nie en sal ook nie binne die volgende vier jaar wees nie. Boonop is Monsanto nie 'n graaninvoerder nie.
Hy het gereageer op beskuldigings van die Sentrum vir Bioveiligheid in Afrika dat Suid-Afrika 'n stortingsterrein vir GM koring kan word as die Regering 'n aansoek toestaan om dié gewas hier toe te laat. Die organisasie beweer Monsanto probeer 'n mark vir sy GM koring in Afrika skep omdat hy sukkel om dit elders reg te kry.
Green sê Monsanto het bloot aansoek gedoen om 'n permitnommer vir die klaring van 'n kommoditeit. "Die kommoditeitsklaring het te doen met die bepaling van die veiligheidseienskappe van die gewas ten opsigte van voedsel, voer en menslike veiligheid.
"Die doel van die aansoek is om te verseker dat die veiligheid van die gewasse deur Suid-Afrikaanse wetenskaplikes ondersoek is."
Me. Mariam Mayer van die Sentrum vir Bioveiligheid meen Suid-Afrika is nie bevoeg om behoorlik te bepaal watter gesondheidsgevolge só 'n besluit inhou nie en dat die aansoek summier afgekeur moet word.
Green sê die vrese is ongegrond en blote bangmaakstories. Hy sê 40 miljoen Suid-Afrikaners en 280 miljoen Amerikaners eet al die afgelope tien jaar GM kos, sonder 'n maagpyn of enige skade aan die omgewing.
"Daar is nie 'n greintjie mediese of wetenskaplike bewyse op enige plek ter wêreld dat GM gewasse 'n gevaar vir die mens se gesondheid of vir die omgewing ingehou het nie."
6 Februarie 2004