JAN CILLIERS
Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe gee steeds voor dat dié land se graanoes genoeg is om sy volk te voed. Die Zimbabwiese organisasie Geregtigheid in die Landbou (Jag) het egter onthul dat 'n groot Amerikaanse maatskappy geld aan Mugabe voorskiet vir die invoer van graan in die geheim.
Jag haal 'n organisasie, Africa Confidential, aan wat beweer dat Sentry Financial International van Amerika groot lenings aan die Zimbabwiese regering toegestaan het om graan in die geheim te kan invoer.
Volgens Africa Confidential het hy 'n brief met 'n aanbod vir krediet ter waarde van R4,8 miljard (VSA$700 miljoen) van Sentry aan die Zimbabwiese regering vir die koop van kos en ander goedere. Dié brief, gedateer 15 November 2003, is van Jewel Bank in Amerika en is gerig aan kol. Samuel Muhvuti, waarnemende direkteur van die staatsbeheerde Graanbemarkingsraad in Zimbabwe. Alle boere in die land is verplig om hul graan aan dié raad te verkoop, wat ook al die land se graansilo's genasionaliseer het.
Die sekuriteit vir die lening bestaan uit die buitelandse verdienste van Zimbabwe se tabakoes.
Dimon Zimbabwe wat nou as Masjonaland Tabacco Company sake doen, het die reg van die Zimbabwiese regering gekry om tabakblare regstreeks van boere te koop en sodoende die veilings te systap. Op dié manier kan Dimon die beste tabak regstreeks van boere koop sonder om op 'n veiling daarvoor te moet bie. Dimon van Amerika is die wêreld se tweede grootste handelaar in tabakblare.
Van die Sentry-lening van R4,8 miljard mag Mugabe R380 miljoen (VSA$55 miljoen) bestee om mielies teen R1 890/ton (VSA$270/ton) te koop. Vir die ander R173 miljoen (VSA$25 miljoen) kan hy koring teen R2 354/ton (VSA$340/ton) koop. Dié pryse is verlede jaar in November vasgestel toe die Suid-Afrikaanse mielieprys R935/ton (VSA$135/t) was.18 Junie 2004