|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Australië se landbou is gereeld in Suid-Afrika in die nuus. Dikwels word gepraat oor die volop geleenthede daar. In die afgelope jaar of wat is die nuus egter oorheers deur die langdurige droogte. Dié groot land is wel standvastig en bied geleenthede, maar die landbou en platteland is onder geweldige druk.
Tot betreklik onlangs is Australië beskou as 'n toonaangewende land ten opsigte van die landbou. Suid-Afrikaners het gereeld by die boere daar gaan kers opsteek. Maar die laaste paar jaar het die Australiese landbou swaar getrek en dit gaan op die oomblik nie goed nie. Droogte is 'n groot probleem en watertekorte, wat ook die stede raak, is 'n bron van kommer.
Slegs sowat 4% van Australië se bevolking woon op die platteland. Die boerderyeenhede en die mense wat by die landbou betrokke is, het oor die afgelope tien jaar al hoe minder geword.
Die landbou dra maar sowat 2% by tot die land se ekonomie. Ook die uitvoer van landbouprodukte krimp. Hierdie produkte dra deesdae slegs sowat 12% by tot die land se uitvoer.
Daar is sowat 20 miljoen mense in die land, van wie sowat 400 000 op die platteland woon. Omdat die platteland ontvolk, probeer die regering immigrante daar vestig.
Minerale is die land se grootste enkele bron van inkomste.
Ekonomiese groei is slegs 2% tot 3% per jaar. Hiermee saam het Australië 'n groot tekort op sy lopende rekening, in verhouding tot die ekonomie ongeveer dieselfde omvang as dié waarmee Suid-Afrika temake het.
Australië het die laaste tyd toenemend onder droogtes gebuk gegaan en die laaste twee jaar was besonder erg, van die swakste op rekord. Dit het die landbou ernstig geknou en baie boerderye het groot verliese gely.
Betreklik baie navorsing word in Australië gedoen oor klimaatsverandering, die vooruitsigte vir die landbou asook oor die beskikbaarheid van water. Daar is redelike konsensus dat droogte gaan toeneem en dat temperature styg, wat nadelig vir die langertermyn vooruitsigte vir hul landbou is.
Die effek van die afgelope twee jaar se droogte is veral te sien in die akkerbouproduksie. Die wintergraanoes was in die afgelope twee jaarmaar sowat 40% tot 50% van die gewone opbrengs. En wintergraan is die land se belangrikste graan.Nodeloos om te sê dit het die land se koringuitvoer erg geknou.Die land het egter sy voorraad gebruik en selfs by ander lande koring gekoop omsy uitvoerverpligtinge na te kom en omsy kopers te behou. Hierdie ontwikkeling het grootliks bygedra tot die skerp styging in internasionale koringpryse.
In groot dele van die land was die weiding skraps en boere het hul vee, veral skape, op groot skaal laat slag. Dit het 'n impak op wol en vleisproduksie gehad. Ook die melk- en wynbedryf het deurgeloop. Die oorskot wyn het verdwyn en Suid-Afrikaanse uitvoerders het die kans gekry om van hul surplusse ontslae te raak.
Australië is een van die wêreld se grootste uitvoerders van melkprodukte en die swak weidings en graantekorte het melkproduksie beduidend laat daal. Dit het ook die uitvoer benadeel, met die gevolg dat die internasionale tekorte aan melkprodukte pryse skerp laat styg het. Dit het ook na Suid-Afrika se melkbedryf deurgewerk.
Navorsers waarsku dat die weer in Australië onstabieler sal word, temperature sal styg en die kans op droogte in die volgende twee dekades beduidend sal toeneem. Die verwagting is dat 'n fokusverskuiwing na meer ekstensiewe bedrywe sal plaasvind en dat die landbou in geheel se winsgewendheid onder druk gaan bly. Dit gaan ook hul vermoë knou om internasionaal te kan meeding.
Australië was nog altyd 'n aantreklike opsie vir Suid-Afrikaners wat groen weivelde elders gesoek het, maar mense wat uitkyk vir geleenthede sal moet kennis neemvan die huidige stand van sake. Grafiek 1 wys die stand van sake ten opsigte van die brutowaarde van landbouproduksie inAustralië (1 dollar = R6). Die Landbou daar se bruto waarde van produksie is sowat 60% groter as dié van Suid Afrika en die uitvoer is betreklik groot.
![]() |
Die bevolking is kleiner as die van Suid-Afrika, maar handhaaf 'n aansienlik hoër lewenstandaard. Dit maak die vraag na meer gesofistikeerde voedsel redelik groot. Die ekonomie groei egter heelwat stadiger en die brutowaarde van landbouproduksie het oor die afgelope vyf jaar nie toegeneem nie. Boerderyproduksie het ook nie gegroei nie.
Anders as in Suid-Afrika is die meeste van hul belangrike produkpryse uitvoerprys verwant en die kleiner volumes het uitvoer en boere se inkomste laat krimp. Daarenteen beteken 'n swak graanjaar in Suid-Afrika dat pryse skerp styg tot die vlak van invoerpryse en dat boere se inkomste betreklik stabiel bly. Die oes is kleiner, maar pryse is hoër. Pryse in Suid-Afrika is dus meer onbestendig, maar bied beter winsgeleenthede vir die boere wat in staat is om dit te benut.
Afgesien van die daling in produksievolume het die ruilvoet (die verhouding tussen produksiekoste en produkpryse) mettertyd verswak. Ondanks die beduidend hoër internasionale landbouprodukpryse in die afgelope maande, verbeter hul ruilvoet nie juis nie.
Die moeilike omstandighede het tot gevolg gehad dat die Australiese boere se netto wins skerp gedaal het. Baie het in die afgelope twee jaar groot verliese gely.
Die verloop van sake word ook geïllustreer deur die skerp daling in die Australiese wintergraanoeste (die land se grootste landboubedryf) in grafiek 3, asook die voortdurende daling in skaapgetalle. Wat veral uitstaan, is dat die afgelope twee jaar se koringoeste minder as 40% van die norm was en dat veral die jongste oes die koringuitvoer skerp laat daal het.
![]() |
Veebedrywe kry swaar as gevolg van skaars graan en voer en swak weiding. Die daling in die skaapgetalle in die droogtejare illustreer dit duidelik. In 2004/'05 was daar 102 miljoen skape en vandag is daar sowat 84 miljoen. Terloops, tot so vyftien jaar gelede was daar nog sowat 120 miljoen. Die wolproduksie daal natuurlik ook. Terselfdertyd het die kuddelikwidasie afwaartse druk op skaapvleispryse geplaas. Die verwagte beter reënval in 2008 sal kuddebou laat toeneem, uitvoer laat daal (Australië is die grootste skaapvleisuitvoerder) en pryse laat styg.
Opgesom: Die Australiese landbou is dikwels voorgehou as 'n navolgenswaardige voorbeeld,maar die situasie het in die afgelope paar jaar omgeswaai. Daarby bied klimaatnavorsing nie veel hoop nie. Water gaan nog skaarser word en die boere gaan waarskynlik verder neig na ekstensiewe praktyke. Dit het 'n invloed op die internasionale vraag en aanbod - om nie te praat van Suid-Afrikaners wat Australië as 'n goeie bestemming gesien het nie.
Landbouweekblad, 18 Januarie 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24