|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Enorme potensiaal bestaan vir Breë-Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB) by landboubedrywe, maar dit word deur gebrekkige vennootskappe met die Regering benadeel, sê die Landboubesigheidskamer (LBK).
Dit is die persepsies van landbou-ondernemings in ‘n onlangse opname wat deur die LBK onder sy lede gedoen is.
Die ondernemings stem saam dat die ontwikkeling van voorheen benadeelde boere voordele kan inhou, mits ‘n behoorlike vennootskap tussen die Regering en die private sektor bestaan. “As die Regering nie doeltreffend met die private sektor saamwerk nie, sal landboubesighede se pogings om die landbou te ontwikkel slegs by gebare bly en dus net op die horison flikker,” lui die verslag.
Die opname
Die LBK het dié opname gedoen om die vordering van sy lede na aanleiding van die Agri-SEB transformasie-handves van 2008, te dokumenteer. Dit bied ‘n basiese oorsig van die lede se vordering, persepsies, geleenthede en uitdagings ten opsigte van BBSEB en ondersteuning aan swart boere.
Die BBSEB-telkaart opname vir 2009 is onder ‘n groep van 30 LBK-lede gedoen. Sowat 30% van die groep agri-besighede betrokke by die opname het ʼn geldige SEB-telkaart voltooi, met ʼn verdere 50% wat nog daarmee besig is.
Die meerderheid (77%) se telkaarte dui ‘n nakomingsvlak van agt of sewe aan. ‘n Nakomingsvlak van een is die hoogste moontlik vlak (dit is 100 punte en 135% voorkeuraankope erkenningsvlak) en agt is net bokant die nie-nakomingsvlak.
ʼn Opname in 2007 het aangedui dat landbou-ondernemings daarna gestreef het om ‘n vlak vier status teen 2014 te bereik, maar weens die uitdagings wat hulle ervaar met die implementering van hul SEB-strategieë, het hulle tydens die 2009-opname ʼn meer realistiese verwagting van ʼn nakomingsvlak van ses teen 2014 aangedui.
Sowat 50% van die ondernemings het ʼn sekere vlak van swart eienaarskap, met ʼn gemiddelde eienaarskap van 14,1% en die hoogste is 34,7%.
Voorkeure en beperkinge
Die ondernemings beskou vaardigheidsontwikkeling, voorkeuraankope, sosio-ekonomiese ontwikkeling en die ontwikkeling van ondernemings as voorkeure.
Volgens die verslag is die vyf grootste beperkinge wat geïdentifiseer is:
1. ‘n Tekort aan gekwalifiseerde en ervare SEB-bestuur.
2. ‘n Tekort aan SEB-vennote met toegang tot finansiering en SEB-finansiering in die algemeen.
3. Uitdagings om die SEB-status van verskaffers te verkry.
4. ‘n Tekort aan ondersteuning en leiding vanaf die Regering en regulerende liggame.
5. Verkryging van SEB-vennote wat waarde tot die besighede kan voeg.
Die ondernemings meen beter samewerking met en vanaf die Regering, asook samewerking en die uitruil van suksesvolle strategieë binne die private sektor kan sukses op ‘n groter skaal verseker.
11 Augustus 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
ek besit n drankwinkel vir 17 jaar en die omset is 6 miljoen per jaar, ek is genader deur n myn groep om te tender vir die onspanning geriewe en verkope van drank, ek het kundige personeel en vriende wat kwalifiseer 1 persoon het n b com graad die ander hetr jare lange besigheids ervaring die probleem is hulle het nie finansies nie
ek beplan om as mentor op te tree na 6 maande moetdie vennote my uit koop waar kan ek aanklop vir leiding, en advies, en finansiering
opregte dank
andre maritz
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)