|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
'n Strategiese graanreserwe is uiters ingewikkeld om te bestuur en kan maklik meer probleme skep as wat dit kan oplos.
Dit is die mening van mnr. Rod Gravelet-Blondin, hoofbestuurder van Safex se landboutermynbeurs, in reaksie op die Regering se planne om voort te gaan met die skep van 'n graanresewe. Volgens 'n onlangse nuusberig het mnr. Masiphula Mbongwa, Adjunk-direkteur-generaal van Landbou, gesê die departement gaan hom nie laat stuit deur ongelukkigheid in die bedryf nie en dat met 'n ontwerpproses begin is.
Mbongwa was op 'n besoek aan die buiteland en nie self vir kommentaar beskikbaar nie.
Gravelet-Blondin het gesê enige inmenging, hetsy werklik óf op papier, sal die meganisme vir prysvasstelling versteur. "As daar wel ingryping moet wees, verkies ons 'n wyse van inmenging wat die mark die minste sal versteur."
Mnr. Bully Botma van Graan SA het gesê al die betrokkenes het verlede jaar, met die opstel van 'n strategie vir die graanbedryf, besluit dat 'n graanresewe nie wenslik sal wees nie. "Al die rolspelers meen die vrye mark is die doeltreffendste meganisme om bekostigbare stapelvoedsel aan die bevolking te voorsien."
Hy het skerp gereageer op beweerde uitlatings deur Mbongwa oor die voorneme van Graan SA se produsente om hierdie produksieseisoen minder graan te plant om sodoende hoër pryse vir verbruikers te skep.
Hy sê die strategiese belangrikheid van die graanbedryf is 'n voorkeursaak vir Graan SA en die organisasie verwerp die suggestie dat boere net in eie belang optree.
Botma het gesê dit is vir plaaslike produsente onmoontlik om internasionaal mee te ding weens die hoë subsidies wat deur ontwikkelde lande aan hul boere betaal word. Daarom is produsente in Suid-Afrika op die plaaslike mark aangewese.
"As oorskotte geproduseer word, sal pryse afgedwing word tot vlakke waarteen nie volhoubaar geproduseer kan word nie. Derhalwe is dit belangrik dat die plaaslike mark min of meer in balans moet wees om pryse tussen in- en uitvoerpariteit te kan handhaaf."
Hy het gesê as pryse kunsmatig deur regeringsinmenging op lae vlakke gehandhaaf word, sal baie boere gedwing word om graanproduksie te staak, wat tot groter graaninvoer, prysverhogings en groter werkloosheid sal lei.
Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van die SA Meulenaarskamer, sê die maalbedryf se standpunt dat hy gekant is teen enige inmenging in die vrye mark bly dieselfde. "Ons praat nou met die departement oor die kwessie en wil nie nou meer sê nie."
Prof. Johann Kirsten, voorsitter van die Voedselprysmoniteringskomitee, sê in sy verslag oor voedselpryse wat onlangs aan me. Thoko Didiza, Minister van Landbou en Grondsake, oorhandig is, is 'n hele reeks aanbevelings oor 'n graanreserwe.
Hy sê die aanbeveling verskil in 'n mate van 'n verslag oor 'n strategiese graanreserwe wat hy in Augustus ingedien het. In dié verslag word die voor- en nadele uitgelig. Hy wou nie oor die inhoud van die verslae praat nie.
13 Februarie 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24