Tegnologie speel ‘n uiters belangrike rol in die moderne boer se vermoë om winsgewend te produseer, sê mnr. Gerrit van Rensburg, minister van landbou in die Wes-Kaap.
Van Rensburg is die genooide spreker by die Herold Landboufees wat van 2 tot 4 September in die Suid-Kaap gehou word. “Boere kry die geleentheid om na die nuutste tegnologie te kyk. Die oplossings vir koringproduksie en suiwel in die Wes-Kaap lê grotendeels in tegnologiese oplossings opgesluit.
Hier dink ek aan teelprogramme; weidingsbestuur, en nuwe kultivars wat hoër opbrengste onder veranderende klimaatstoestande lewer.”
Van Rensburg sê die skou maak landbou toeganklik vir die verbruiker en dat die Herold Landboufees die plaas tot in die voorstedelike woonkamer neem.
“Dié skou skep die platform vir verskillende lanbourolspelers om mekaar te ontmoet. Plaaswerkers, produsente en insetverskaffers moet mekaar beter leer ken, en dit is by geleenthede soos dié waar dit gebeur.”
2 September 2010
Kommentaar
Tegnologie is beslis die boer se enigste hoop om gereed te wees vir die toekoms waar koste so laag as moontlik moet wees en produksie so hoog as moontlik.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)