|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Kort nadat die munisipaliteit Nketoana in die hof bloedneus gekry het oor grondbelasting van 2 % het nóg 'n Vrystaatse munisipaliteit aangekondig hy gaan belasting van 4,844 % op landbougrond hef.
Mnr. Louw Steytler, voorsitter van Vrystaat Landbou, het gesê munisipaliteite wat dié stappe doen, ondermyn die werk wat reeds tussen Vrystaat Landbou en die Regering gedoen is. "As ekonomiese beginsels nie eerbiedig word nie, sal ons ons weer tot die howe wend. Dit sal egter 'n mors van tyd en geld wees, want die saak is reeds getoets en Vrystaat Landbou het met gemak gewen."
Mnr. Cassie Muller, Vrystaat Landbou se ondervoorsitter, sê dit is noodsaaklik dat die Regering met alle belanghebbendes moet praat en riglyne na die provinsies deurgee. Die Vrystaatse LUR vir landbou, mnr. Ace Magashule, het voorheen al gesê hy sal met die munisipaliteite praat en Vrystaat Landbou raadpleeg om 'n werkbare belastingkoers te kry.
Mnr. Borrie Erasmus, die organisasie se woordvoerder oor plaaslike regering, sê geen boer in die Vrystaat sal teen 'n belastingkoers van 4,844 % kan oorleef nie. "Die landbou sal ten gronde gaan."
Die DA het die munisipaliteit Matjhabeng, wat Welkom en die omliggende dorpe insluit, skerp gekritiseer. Mnr. Andries Botha, Vrystaatse leier van die DA, het in die debat oor die provinsiale landbou-begroting in die wetgewer gesê só 'n heffing sal meebring dat teen 'n verlies van R33,20/ha in die munisipale gebied geboer word. Dit sal die landbou daar "met een fel hou" vernietig.
'n Woordvoerder van die munisipaliteit Matjhabeng sê die belasting is net van toepassing op landbougrond wat reeds onder sy jurisdiksie val. Dit sluit plase van myne en staatsinstansies in wat nie vir boerdery gebruik word nie. "Nuwe" landbougrond is nog nie op die waardasierol nie. Sodra die nuwe waardasierol moontlik voor einde vanjaar afgehandel is, sal 'n besluit oor die "nuwe" plase geneem word.
25 Junie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24