|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Beter praktyke rondom omgewingsbestuur moet ‘n integrale deel van landboubedrywighede in Suid-Afrika word, sê die Wêreld-natuurfonds of WWF.
Luidens ‘n verklaring het die WWF onlangs twee programme bekend gestel om ‘n balans tussen die landbou en die omgewing te bewerkstellig, nl. Living Farms Reference en Agricultural Facts and Trends.
Mnr. Mark Botha, hoof van die WWF se Living Lands-projekte, sê weens die groot rol wat die landbou rakende voedselsekuriteit en bio-diversiteit speel, meen hy dit is baie belangrik dat die sektor aandag moet skenk aan ekonomiese-, maatskaplike- en omgewingsvolhoubaarheid.
Tot voordeel van menslike gesondheid
Volgens Botha sal beter omgewingspraktyke ook tot voordeel van menslike gesondheid wees, en help om die land se watervoorrade te bewaar. “Ons beperkte waterbronne word ernstig bedreig deur oormatige onttrekking en besoedeling deur landbou-afval, kunsmisstowwe en pesdoders. Landboubedrywighede moet verseker dat natuurlike stelsels, soos opvanggebiede, riviere en vleilande in ‘n gesonde en werkende toestand onderhou word.”
Gesonde natuurlike ekosisteme speel ‘n belangrike ondersteuningsrol ten opsigte van die landbou. Baie voorbeelde bestaan waar dié stelsels beskerm word, maar die uitbreiding van landboubedrywighede bedreig die stelsels ook in baie gevalle, sê Botha. Volgens die jongste Rooi Data-lys van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) word een in elke vyf plantspesies deur landbou-ontwikkeling bedreig.
Meer ondersteuning aan boere
Botha sê hulle wil meer ondersteuning aan boere bied wat omgewingsake betref aangesien kommersiële boere die ruggraat van die land se voedselsekurteitpogings vorm, terwyl die landbou een van die mees uitdagende sektore is.
“In die nabye toekoms gaan dieselfde hoeveelheid grond gebruik moet word om baie meer mense te voed. Dít, te midde van dalende watergehalte en beskikbaarheid. Ons gaan minder koolsuurgas en fosfor moet gebruik en kweekhuisgasvrystelling moet verlaag. Dit alles terwyl kommoditeitspryse elke boer se keuse van gewas ‘n dobbelkeuse maak, en te min beamptes en navorsers nuwe tegnieke of opleiding voorsien en oorlewing in landelike gebiede moeiliker raak,” verduidelik Botha.
Hy sê die Living Farms Reference-projek bied aan ‘n goed bestuurde plaas ‘n behoorlike uitleg oor hoe om ‘n plaas wettiglik meer omgewingsvriendelik te maak. Dit is saamgestel deur middel van ‘n deelnemende proses waarby konsultante, sektorverteenwoordigers, kundiges en werksessies betrokke was.
“Ons moet die belangrikheid van die Suid-Afrikaanse landbou en ons vermoë om die toekomstige uitdagings deur middel van beter omgewingspraktyke aan te spreek, erken,” sê Botha.
8 Junie 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)