|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Sasol het begin om geskikte produsente te vind vir 'n projek om 470 000 ton sojabone per jaar aan te plant vir die vervaardiging van 80 000 ton biodiesel per jaar. Die maatskappy hoop om sy vennote voor Junie vanjaar te identifiseer.
Die projek volg na 'n uitvoerbaarheidstudie van meer as twee jaar waarin verskeie gewasse soos sonneblom, jatropha en sojabone vir die vervaardiging van bio-diesel oorweeg is. Mnr. Johan Thyse, assistant bestuurder van kommersiële dienste by Sasol, het besonderhede oor die projek by Graan SA se kongres buite Bothaville bekend gemaak.
Hy het gesê daar is op sojabone besluit omdat daar na die hele waardeketting gekyk is. Daar is markte vir die byprodukte soos sojameel en gliserien, die sojameel is vir beide menslike en dierlike gebruik geskik, sojabone word plaaslik verbou en dit kan plaaslik ekonomiese groei bevorder. Die byprodukte van sonneblomsaad is nie waardevol genoeg om dit winsgewend te maak nie.
Die biodiesel sal by minerale diesel gevoeg word wat by Sasol vervaardig word en daarom is die projek geoormerk vir die omgewing van Secunda in Mpumalanga. Vir boere beteken dit 'n mark vir sojabone van 470 000 ton per jaar teenoor die huidige produksie van sowat 230 ton. Die sojabone sal op sowat 300 000 ha vebou moet word en produsente sal kragtens ooreenkomste van 'n mark verseker wees.
Graan SA het gesê daar ontbreek ongelukkig nog duidelike beleidstandpunte van die regering soos die verpligte inmenging van 5 % biodiesel in gewone diesel, 'n spesifieke meganisme of formule om die prys te bepaal en belastingsinsentiewe vir die vervaardiging van biodiesel.
Mnr. Frans Potgieter van Brits het gevra Graan SA moet voortgaan om groter duidelikheid oor die regering se beleid in hierdie verband te kry.
Hy het gesê die ontwikkeling behoort ook binne die proses van swart bemagting binne die graanbedryf beter marktoegang en deelname aan opkomende en kommersiele swart boere te bied.
Thyse het daarop gewys dat vir elke 1 000 liter biodiesel, 15 werksgeleenthede geskep word.
Me. Lerato Thahane, adjunk-direkteur-generaal tegnologie vir ontwikkeling van die Departement van Wetenskap en Tegnologie, het ook verwys na 'n ondersoek deur die WNNR oor biodiesel. Een van die sterk aanbevelings was dat bio-brandstof die land se afhanklikheid van ingevoerde fosielbrandstof kan verminder terwyl dit werk skep, alternatiewe markte vir graan en ander gewasse skep, help met swart bemagtiging en die omgewing bevoordeel.
Sy het gesê die departement koördineer die implementeringsproses van bio-brandstof tussen verskillende staatsdepartemente, navorsingsinstellings en die private sektor. Sy sê as die byvoeging van 5 % biodiesel verpligtend raak, sal sowat 280 miljoen liters jaarliks benodig word.
Volgens haar is dit belangrik om die verwagtings van die onderskeie rolspelers te bestuur en in hierdei verband speel Graan SA 'n belangrike rol.
19 Maart 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24