Boer verdink van veediefstal

 

Die eienaar van ‘n plaas in die Petrusville-omgewing word van veediefstal verdink nadat gesteelde vee in sy besit gevind is, sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Luidens ‘n verklaring het die 32 jarige mnr. Jozeph van der Walt sy eiendom aan ander boere uitverhuur. In die tydperk van 26 Januarie tot 28 Februarie is 433 skape en sewe beeste op dié grond gesteel.

Kapt. Cherelle Ehlers, woordvoerder vir die Polisie in die Noord-Kaap, sê in dié tydperk het Van der Walt glo die eiendom betree. Die vermoede bestaan dat hy die vee gesteel en aan slagplase in Bloemfontein en Colesberg verkoop het.

Volgens die verklaring is 75 skape, wat Van der Walt glo gebrandmerk het, die dag van sy inhegtenisname in sy besit gevind.

Vrou ook aangekeer
Me. Bertie Bierman, Van der Walt se 34 jarige vrou, is later ook in verband met die misdaad aangekeer. Die egpaar het reeds in die hof verskyn, en borg is aan hulle toegestaan. Van der Walt is op R500 borg vrygelaat, en Bierman se borg het R5 000 beloop. Hulle sal weer op 5 Oktober in die hof verskyn.

Luidens ‘n berig op News24.com is Bierman aangekeer na ‘n astronomiese hoeveelheid geld in haar besit gevind is. Die gemeenskap van Petrusville is glo in rep en roer, aangesien die egpaar in ‘n luukse huis in Bloemfontein leef en onlangs twee luukse viertrekvoertuie gekoop het.

Die boere wat weens dié diefstal skade gely het, het volgens dié berig reeds aan hul regsverteenwoordigers opdrag gegee om skade terug te eis. Die plaas sal na bewering binnekort verkoop word.

Lees ook:

Boer vas oor veediefstal

Veediefstal: Sindikaat oopgevlek?

29 Julie 2010

4
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.