Theuns Botha
Sybokhaarpryse het op die jongste veiling in Port Elizabeth die derde agtereenvolgende week laer geneig. Die hoeveelheid wol wat op dié veiling van die hand gesit is, het ook aansienlik gedaal. Die daling kom midde ernstige bedenkinge op 'n landbou vooruitskouingskonferensie oor die betroubaarheid van die openbare veilingstelsel as 'n meganisme om pryse vas te stel.
Grootbokhaar se prys het met 2,5 % tot 6 % teruggesak, dié van kleinbokkiehaar effens minder, terwyl die prys van jong bokhaar onveranderd was. Volgens Sybokhaar Suid-Afrika is 78 % van die aanbod verkoop.
Die gemiddelde pryse op die veiling in rand per kilogram teenoor pryse 'n jaar gelede (tussen hakkies) was soos volg: Kleinbokkiehaar, R91,07 (R73,41); jong bokhaar, R47,80 (R47,60); fyn groothaar, R34,40 (R33,04); en sterk groothaar, R32,34 (R30,81). Die gemiddelde prys van R45,81 is R5,60/kg hoër as 'n jaar gelede.
Volgens Sybokhaar SA sal die onlangse vrektes weens koue van soveel as 15 000 bokke'n uitwerking op die 2003-somerskeersel hê. Die feit dat sybokhaar tans teen hoogs mededingende pryse aangebied word, behoort tot beter pryse te lei.
Die volgende veiling word op 17 September gehou.
13 September 2002