|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
‘n Bom tik in die landbou en net ‘n meesterplan, soos Kodesa, kan dié ontploffing keer, sê ‘n bekende sakeman in die vrugtebedryf.
Dr. Johan van Deventer, besturende direkteur van Freshmark, 'n Suid-Afrikaanse verskaffer van vars produkte, skryf in ‘n brief aan landbou.com en Landbouweekblad hy is diep bekommerd oor die pad waarop die landbou tans is.
Hier is skrywe:
Ek woon die kleinboer-konferensie in Bellville by, lewer ‘n toespraak vir die soveelste keer vir, en oor, opkomende boere en die uitdagings en ek ry daar weg - hoogs bekommerd: “Ons sit op ‘n bom!” Maar ons maak soos volstruise - dankie tog, sê ons, die konferensie is verby en die mense kon weer ‘n slag lekker keel skoonmaak: “Don’t worry, be happy.” Die troos is darem dat die welwillendheid nog daar is om saam te werk en oplossings te kry.
Opkomende produsente/klein produsente is hoogs gefrustreerd om die minste te sê. Gatvol en aggressief omskryf dinge dalk beter en met ons kommersiële boere gaan dit nie juis beter nie. Dinge gebeur nie – die staatsmasjinerie het vasgeroes - net “talk shows” bly oor.
Hierdie toestand word veroorsaak deur ‘n totale planloosheid van Regeringskant. Die landbou is herderloos: Aan die een kant word wilde uitsprake en aantygings van tyd tot tyd teenoor kommersiële boere gedoen en aan die ander kant leë beloftes aan die klein en opkomende boere.
Waar is die plan?
Geen plan met dié meriete dat die rolspelers daarin ingekoop het, bestaan nie. Daar is ook nie ‘n geleentheid dat almal vir eens en altyd saam kan praat en klaar kan praat nie. Daar word selfs reguit gekap na die nasionale Minister van Landbou: Waar is die plan en waar is die ondersteuning? Waarheen is ons op pad? Nie ‘n druppeltjie hier en ‘n druppeltjie daar nie. Ons is maar waar ons in 1994 was? Of nog slegter af! Almal roei en spook, maar die bootjie lê nog steeds in die hawe.
Die groot saal vol mense klap keer op keer hande as sprekers sê ons kan nie so aangaan nie. “ons sit op ‘n bom”, en dit blaas al rook uit, sê ‘n spreker. Dalk is dit ‘n Zimbabwiese bom waar frustrasie oorgeloop het in vergrype? Hierdie toestand is die teelaarde vir “Malema-uitsprake” en dan volg die teenuitsprake en so ping-pong ons voort - waarheen?
Het ons dom geword?
Nou vra ek: Ons was slim by Kodesa om geboorte te gee aan die nuwe Suid-Afrika wat tog werk en so baie hoop gebring het - het ons intussen dom geword? Hoekom kan ons leiers, polities, sosiaal, ekonomies, ons in die landbou nie onder een dak kry waar ons al die geskille kan uitsweet en beredeneer nie?
Al neem dit langer as ‘n jaar maar ons hou aan totdat ons ‘n meesterplan het vir die landbou in Suid-Afrika. Al is die plan ook net 70% reg, gaan hy beter wees as die onsekerheid en frustrasie wat nou heers.
Dit waarmee ons tans besig is, is nie volhoubaar nie, en ons almal sal moet inklim vir aksie. Nou is dalk ‘n goeie tyd omdat ek seker is dat die Regering sal wil punte verdien voor die volgende verkiesing?
Soos ‘n spreker gesê het:
Met dringendheid.
Met erns.
Bereid om te deel.
Bereid om te weet die landbou is vol risiko’s en is nie vir sissies nie.
Wen-wen.
Vir die toekoms van die landbou en vir die toekoms van Suid-Afrika.
Hoop die regte mense lees hierdie noodkreet uit die landbou - aksie asseblief, ons tyd loop uit: Wat gaan ons vir ons kinders vertel?
22 Augustus 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Ons was beslis nie slim by kodesa nie, want ons het vandag niks behalwe verval om te wys nie. Ons het nie nog so 'n gemors nodig nie.
'n Kwade dag het aangebreek wanneer jy wil oorgee soos met die eerste Kodesa-samesprekings. As jy dit nie kan maak nie - maak jou eie planne. Moet nie mense insleep in 'n gesprek wat hulle alles gaan kos terwyl jy rondry en toesprake hou nie!
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)