Wegholbrande woed in dele van die Suid-Kaap, wat reeds gebuk gaan onder erge droogte. In die Boland is die Franschhoek-pas ook gesluit weens digte rook van ‘n bergbrand wat dié gebied in “chaos gedompel het”, luidens Nuus24.
In die Suid-Kaap het Knysna die ergste deurgeloop, waar brandbestryders huise en besighede met die hulp van helikopters probeer red het. Luidens ‘n berig van Mail & Guardian is die Suid-Kaap deur sowat sewe brande geteister en in Plettenbergbaai is eiendom ook bedreig.
“Dis warm, dis droog, dis winderig en daar’s net geen verligting in sig nie,” het mnr. Gerhard Otto, hoof van rampbestuur in dié omgewing, gesê. Brandweerhoof vir die Eden-gebied, me. Annelize Lamprecht, sê brande het ook by Haarlem naby George en in die Rheenendal-omgewing ontstaan. Twee brande het by Stilbaai uitgebreek, luidens die webwerf Saweatherobserver.blogspot.com.
By Franschhoek het sowat 160 brandbestryders die brand probeer blus, maar digte rook het verhoed dat helikopters kon opstyg om water oor die vlamme te dompel. Plase in dié gebied moes ontruim word en sowat 4 900 ha fynbos in die Jonkershoek- en Hottentots-Holland-natuurreservaat is verwoes.
Lees ook:
Bron:
Saweatherobserver.blogspot.com
9 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)