Boere in die Langkloof is verwoed besig om brande te bestry wat die afgelope naweek in die omgewing ontstaan het, terwyl hulle erge droogte ervaar.
Mnr. Andre de Witt, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging, sê verskeie brande woed op dié stadium en weens baie hoë temperature en waterskaarste is dit uiters moeilik om die brande geblus te kry.
“As ek nou so om my kyk brand dit in die Tsitiskama- en Kougaberge, en ek dink die Tsitsikamaberge gaan afbrand. Ons word basies omring deur brande.” De Witt boer in die omgewing van Misgund, op die plaas Fairview Landgoed.
Hy sê ‘n groot deel van Mnr. Leon Kritzinger, sy 80-jarige buurman, se plaas het gister afgebrand. “ ’n Deel van sy stoor het aan die brand geraak en ‘n vragmotor, twee trekkers en twee van sy spuite het uitgebrand.” Hy sê vier boere se huise was gister in gevaar, maar dié brande kon gelukkig geblus word. “Ek weet ook van ‘n blok Pienklady appels, en ‘n peerboord, en druiweboorde wat al afgebrand het,” vertel De Witt.
Stuur gerus foto's van die brande na foto@landbou.com.
Geen vooruitsig vir reën
Volgens De Witt voorspel die weerkantoor geen reën vir dié week nie, en gaan die gebied onder baie hoë temperature gebuk. Mnr. Cerneels Pietersen, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê die weerburo voorspel dat die westelike dele van die provinsie droog sal bly.
Hy sê hulle het tans nie ‘n aanduiding van hoeveel skade al aangerig is nie, aangesien baie boere steeds die brande probeer beveg. “Ons weet van boorde wat al afgebrand het, asook jong vrugtebome, maar die grootste probleem is die waternood!
“Dis vir my onverstaanbaar, ek boer al 39 jaar hier. Eers was dit die oorstromings en die skade wat hulle aangerig het. Toe kom die droogte wat net nie wil breek nie, en nou is dit verskriklike brande,” vertel ‘n moedelose De Witt.
Hy sê die wind dwarrel baie, wat dit moeilik maak om te weet waarheen die brande gaan beweeg of waar dit vandaan gaan kom.
Moontlik deur weerlig veroorsaak
Intussen sê me. Porchia Adams, woordvoerder vir Agri Wes-Kaap, die oorspronklike brand in die gebiede van Haarlem en Avontuur is glo deur weerlig veroorsaak, en dít het die naweek weer in dié gebiede opgevlam. Sy sê die brand in die gebied van Avontuur is onder beheer gebring, maar die brand vanaf die Haarlemdam het weer opgevlam en so 1,5 ha vrugteboorde gebrand.
‘n Brand het glo ook langs die kus uitgebreek en van die helikopters wat die Langkloof-gebied gemonitor het, is daarheen ontplooi.
Boere in die Oos-Kaap wag tans vir ramphulp vanaf die Regering in verband met die droogte. Die Suid-Kaap gaan ook onder ‘n erge droogte gebuk. In sommige dele is dié droogte die ergste in 132 jaar.
8 Februarie 2010
Kommentaar
ek hoop dat mensen meer probeer in vrede te lewe dis of op de wereld net geweld en onnodige leed is mijn suster haar telefoon se draden word steeds gesteel zo is dit baaie moelijk om kontakt te hou geef alle afrikaaners veel sterkte toe gewens
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)