Tuis
Gevorderde soek
  • Tuis
  • Nuus
  • Bedrywe
    • Diere
    • Akkerbou
    • Tuinbou
    • Meganisasie
    • Bedryfsake
    • Tegnologie
    • Wiele
  • Die weer
    • Vandag se weer
    • Weervoorspelling
    • Weerberigte
    • Gesels saam oor die weer
  • Markte
    • Safex-pryse
    • Aandeelpryse
    • Agri-weekliks
    • Veilingspryse
    • Finansies
    • Varsprodukte
  • Vra die kundiges
    • Vra vir Faffa
    • Dierevoeding
    • Finansies
    • Chemikalieë
    • Regskenner
  • Stoeterye
    • Beeste
    • Skape
  • Jou mening
    • Forums
    • Gespreksforum
    • Boereblogs
    • Peiling
  • Multimedia
    • Foto-albums
    • Video's
    • E-pos foto’s aan ons
  • Potpourri
    • Kos en resepte
    • Boer soek 'n vrou
    • Pretkalender
    • Kalender
    • Jag en gewere
    • Jongste Landbouweekblad
    • Bloktoetse
    • Kompetisies
    • Boeke
  • Geklassifiseerde advertensies
Jy is hier: Nuus / Nuus-artikel / Broodkartel-die-storie-agter-die-skandaal

Nuus

SA en Australië deel SKA-projek

Ná jare se beplanning en maande se wag het die SKA-organisasie aangekondig dat Suid-Afrika en Australië dié teleskoop sal deel.

  • Kaap Agri vaar goed ná ontbondeling
  • Gebrekkige rekord oor grondbesit
  • OBP-entstof weer onder skoot
  • SKA: Suid-Afrika hoor dalk vandag
  • Langklooframphulp: Minister help eindelik
  • Oesskatting in die kol – Graan SA
  • John Deere-winkel gewild op Nampo
meer...

Lekkerlees

  • Aktekantoor se inligting oop vir publiek
  • Nampo 2012 - die landbou in al sy glorie
  • Bewerkingstoer na Argentinië
  • Titelaktes van familieplaas
  • Eis teen Transnet nadat plaas afgebrand het?
  • Wie smous met BK’s?

My Weer

  • Voorspelling
  • Vandag
  • My ligging

Kaapstad

  • Saterdag
  • Kans op reën
  • Hoog:18 C
  • Laag:9 C
  • Sondag
  • Sonskyn
  • Hoog:20 C
  • Laag:7 C
  • Maandag
  • Gedeeltelik bewolk
  • Hoog:20 C
  • Laag:9 C
Sonsopkoms: 7:38
Sonsondergang: 17:46

Kaapstad

Bygewerk:26 May 13:00 IDT
Temp:
Druk:
Doupunt:
Humiditeit:72%
Wind:

Kaapstad

Peiling

Is mentorskap die korrekte oplossing vir die suksesvolle bemagtiging van nuwe boere?:

Broodkartel: Die storie agter die skandaal

 
Deur SUSAN BOTES (susan.botes@landbou.com)

Die implisering van vier reusevoedselmaatskappye in 'n broodkartel het verlede jaar skokgolwe deur Suid-Afrika gestuur. Die beweerde konkelaars - waarvan twee reeds erken het dat hulle deel van 'n kartel was - is Pioneer Foods, Tiger Consumer Brands en Premier Foods. Foodcorp is later by die lys van beskuldigdes gevoeg.

Premier het onmiddellik by die ondersoekende Mededingingskommissie aansoek om immuniteit gedoen. In ruil daarvoor het die maatskappy besonderhede oor die kartel verstrek. Tiger het later tevergeefs om amnestie aansoek gedoen omdat hy geen nuwe feite onder die kommissie se aandag kon bring nie. Vir "goeie gedrag" is Tiger slegs 'n "ligte" boete van R98,8 miljoen opgelê vir sy betrokkenheid by die kartel.

Premier en Tiger se getuienis in die saak het dit rugbaar gemaak dat daar moontlik ook 'n koringmeulekartel werksaam is. Vir hierdie inligting het albei maatskappye amnestie verkry. Tot op hede het Pioneer Foods en Foodcorp geen skulderkenning gemaak nie en gaan hierdie maatskappye se lot nou deur 'n verhoor voor die Mededingingstribunaal bepaal word.

Mnr. Thulani Kunene, die kommissie se wetstoepassingshoof, is glad nie beïndruk met die bestuur van Pioneer en Foodcorp se houding teenoor die aanklagte nie. Die kommissie kry die gevoel dat hulle die saak nie in 'n ernstige lig beskou nie.

"Pioneer en Foodcorp was deel van 'n kartel wat die prys van brood - 'n stapelvoedsel van arm mense - vasgestel het. Ons het aan hulle 'n lys name verskaf van hul werknemers wat die vergaderings bygewoon het asook wanneer die vergaderings plaasgevind het. Hul houding is dat hulle nie weet wat hulle verkeerd gedoen het nie," sê Kunene.

Die maksimum boete wat 'n maatskappy in Suid-Afrika vir onmededingende praktyke opgelê mag word, is 10% van sy jaarlikse omset. Tiger se goeie samewerking het gelei tot 'n ligter boete van 5,7%, maar Kunene het Landbouweekblad verseker dat die kommissie daarna streef om'n boete van 10% vir deelname aan albei kartelle teen Pioneer en Foodcorp opgelê te kry. Dit kom neer op 'n hap van 20% uit hul jaarlikse omset.

Oor hierdie inligting is daar reeds in die media berig. Daar is egter 'n paar vrae wat steeds in die agterkop vassteek:

Waar het alles nou eintlik begin? Wie is die betrokkenes? Wat is die implikasie van die kartel vir die primêre landbou? Om dit te verstaan, het Kunene die saak chronologies uiteengesit.

Voor 1994 was daar vasgestelde wetgewing oor brood. Die staat het sekere riglyne gehad, wat byvoorbeeld die broodprys, -gewig en -groote wetlik bepaal het. Die verskillende bakkerye het destyds bymekaargekom om die prys te bespreek - wettiglik en onder verpligting.

Ná deregulasie het dinge egter verander. In 1999 het die wetgewing rakende mededinging in werking getree. Dit was skielik onwettig om pryse met mededingers te bespreek. In die geval van die broodkartel wil dit voorkom of die betrokke maatskappye steeds in die geheim ontmoet het eerder as om met mekaar om markaandeel te begin meeding.

Hierdie praktyk is regstreeks teenstrydig met seksie 4 van die Mededingingswet van 1998. Daarvolgens mag mededingers nie mekaar ontmoet en pryse bespreek nie.

Só het dit jare lank aangehou, maar dinge het verander nadat 'n onafhanklike Wes-Kaapse broodverspreider op 15 Desember 2006 'n oproep na die Mededingingskommissie se kantoor gemaak het.

"Die persoon het versoek dat haar identiteit beskerm moet word. Sy het ons ingelig dat daar 'n moontlike broodkartel in die Wes- Kaap bestaan," sê Kunene.

Sy het lont geruik toe sy en ander onafhanklike broodverspreiders drie briewe ontvang het waarin Sasko (Pioneer), Albany (Tiger) en Blue Ribbon (Premier) nuwe pryslyste aangedui het. Al drie het, in soortgelyke briewe, aangedui dat hul wit en bruinbroodpryse enkele dae uit mekaar met 30c tot 35c per brood sou styg. Twee bakkerye se nuwe pryse sou op 18 Desember en die ander een s'n op 19 Desember 2006 in werking tree.

Indien hierdie inligting nog nie die betrokke verspreider snuf in die neus laat kry het nie, sou die volgende deel in die briewe dit wel gedoen het. Verspreiders is ingelig dat hul voortaan slegs 75c afslag sou kry, ongeag die hoeveelheid brood wat hul aankoop.

Voorheen het hul afslag gekry na gelang van die hoeveelheid brood wat hulle neem. Hoe meer hulle geneem het, hoe minder het hulle per brood betaal.

Hierdie inligting was genoeg vir Kunene en sy span om'n ondersoek van stapel te stuur. Die kommissie was egter skaars uit die wegspringblokke toe Premier homself vrywillig "oorgegee" het. Dié maatskappy het gebieg dat hy by die kartel betrokke was. Die ander beweerde oortreders - Pioneer, Tiger en Foodcorp - is deur Premier se getuienis geïmpliseer.

Volgens Premier was die maatskappy sedert 1999 betrokke by talle vergaderings met mededingers (op die gebied van brood én meulenaars) waarop prysverhogings en afslag aan klante op 'n nasionale basis bespreek is.

Premier se samewerking het daartoe gelei dat die maatskappy volgens die kommissie se korporatiewe toegeeflikheidsbeleid kwytgeskeld is. Dus sou slegs Tiger, Pioneer en Foodcorp verder ondersoek word.

Hoewel Foodcorp, wat onder die naam Sunbake brood bak, nie in die Wes-Kaap bedrywig is nie, het hy blykbaar aan kartelbedrywighede in ander provinsies deelgeneem.

In hierdie tyd (Januarie verlede jaar) het 'n tweede onafhanklike broodverspreider in die Wes-Kaap, mnr. Imraahn Mukaddam, die kommissie gekontak en 'n soortgelyke klag ingedien. Hierdie klag is saam met die eerste een gevoeg.

Mukaddam het beweer dat Premier, Tiger en Pioneer besluit het om nie mekaar se onafhanklike verspreiders af te rokkel nie. Premier se getuienis het hierdie bewering beaam en ook aan die lig gebring dat die betrokke maatskappye onderneem het om markte toe te ken. Ter illustrasie: Een van die drie sou byvoorbeeld 'n bakkery in Mpumalanga sluit sodat 'n mededinger dominant kon wees. In ruil daarvoor sou laasgenoemde weer, argumentsonthalwe, 'n Vrystaatse bakkery opoffer. Só verduidelik mnr.Avish Kalicharan, wat aan die hoof van die kommissie se broodkartel-ondersoek staan.

In Maart verlede jaar het Tiger ook na die kommissie gegaan en geprobeer om vrywaring teen vervolging vir sy rol in die broodkartel te kry. Die kommissie het ingestem en 'n ooreenkoms is tussen die maatskappy en die kommissie gesluit. Daarvolgens het Tiger ingestem dat hy 'n boete van bykans R98,8 miljoen, oftewel 5,7% van sy jaarlikse omset, opgelê word vir sy deelname aan die broodkartel.

Daar is buite die tribunaal geskik en die kommissie het die boete verlaag, aangesien Tiger sy volle samewerking tydens die ondersoek gegee het, volgens Kunene.

Die maatskappy het op 7 Desember aangekondig dat sy uitvoerende hoof, mnr. Nick Dennis, na afloop van die maatskappy se jaarvergadering op 19 Februarie vanjaar op vroeë pensioen sal gaan. Hy gaan ook as direkteur van die maatskappy bedank. Dennis het aan die kommissie genoem dat hy nie kennis van enige kartelvorming gedra het nie. In Tiger se persverklaring oor Dennis se aftrede word genoem dat hy meen dit is in die maatskappy beste belang dat hy aftree.

Met Tiger en Premier se lot reeds bepaal, is alle oë nou op Pioneer en Foodcorp. Die Wes-Kaapse saak is reeds na die Mededingingstribunaal verwys en die nasionale saak sal binnekort verwys word. Dinge sal nou soos 'n normale hofsaak verloop.

Premier en Tiger se amptenare sal ingevolge die voorwaardes van hul immuniteitooreenkoms teen die beskuldigdes getuig.

Die ondersoek na die meulenaarskartel is ook besig om einde se kant toe te staan.

Die kommissie hoop om dit binne die volgende maand na die tribunaal te verwys.

Tiger, Premier, Pioneer en Foodcorp - wat onder die naam Ruto Milling handel dryf - is almal weer as betrokkenes uitgelig.

Tien kleiner meulens word ook betrek, maar die kommissie wil nie die name in die media bekend maak voor die betrokke meulens nie self daaroor ingelig is nie.

Die kommissie is ook besig om koring- silo's te ondersoek, maar wou nie te veel daaroor aan die media sê nie.

Daar is nie tans 'n ondersoek oor die deel van die koringwaardeketting tot by die plaashek aan die gang nie,maar dit beteken nie dat die kommissie se ondersoek nie besig is om soontoe te lei nie.

"Tans is ons met navorsing oor die hele koringwaardeketting besig," Aldus Kalicharan.

Beleid van toegeeflikheid nodig vir inligting
Hoekom is onmededingende praktyke sedert deregulasie nou eintlik só verkeerd dat dit teen die wet is? Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van die Meulenaarskamer, het dit soos volg opgesom: "Binne 'n beheerde mark moet die staat pryse reguleer, maar in 'n vrye mark is dit mededinging wat waghond moet speel."

Mnr. Thulani Kunene, die Mededingingskommissie se wetstoepassingshoof, verduidelik dat kartelvorming neerkom op diefstal omdat maatskappye konkel om op 'n onwettige wyse geld uit verbruikers te maak wat hul nie sou gemaak het as hulle om markaandeel meegeding het nie. In Amerika en Brittanje word kartelvorming as 'n strafregtelike oortreding gesien waarvoor uitvoerende beamptes tronkstraf opgelê kan word.

Uit die aard van die saak word kartelle agter geslote deure bedryf. Om dié rede is die korporatiewe toegeeflikheidsbeleid ontwikkel. Internasionaal is dit bewys as een van die doeltreffendste maniere om kartelbedrywighede aan die kaak te stel.

Deur hierdie program kan maatskappye volle of gedeeltelike amnestie verkry in ruil vir waardevolle inligting oor die kartel. Omdat dit in die verbruiker se belang is om kartelle op te breek, is die mededingingsowerhede meer as bereid om maatskappye in ruil vir inligting nie te vervolg nie.

Wanneer Premier Foods en Tiger Consumer Brands met mekaar vergelyk word ten opsigte van die broodkartel, is dit duidelik dat daar rede is vir maatskappye om van die toegeeflikheidsbeleid gebruik te maak, sê Kunene. "Afgesien van 'n groot boete kan die reputasie van maatskappye wat aan kartelbedrywighede deelneem, ernstig benadeel word. Maar as hulle om toegeeflikheid aansoek doen, kan hulle die boete vryspring én die skade aan hul reputasie beperk."

Kunene sê die kommissie gaan selfs strenger teenoor Pioneer Foods en Foodcorp optree as teen Tiger omdat nie een van eersgenoemde twee maatskappye, volgens hom, hoegenaamd hul samewerking wil gee nie. "Ons soek die maksimum straf teen hulle, want dit wil voorkom of hulle nie die erns van die oortredings besef nie."

Mense wat enige onmededingende praktyke onder die kommissie se aandag wil bring, kan die kommissie se kantoor bel (tel. 012 394 3200) of sy webwerf ( www. compcom.co.za ) besoek.

Ander landbousake bekyk
Dit is nie net die koringwaardeketting wat onder die mededingingsowerhede se vergrootglas is nie. Daar is 'n paar ander landbousake wat tans of later vanjaar aangehoor of ondersoek gaan word. Hier is 'n paar waarvan Landbouweekblad kennis dra:

  • Sedert Oktober verlede jaar probeer die Mededingingskommissie en die tabakmaatskappy JT International die Mededingingstribunaal oortuig dat die maatskappy British American Tobacco sy oorheersing in die mark misbruik. Die saak het op 14 Januarie hervat.
  • Is die landboumaatskappy Senwes besig om sy oorheersing in Noordwes te misbruik? 'n Paar graanhandelaars en die kommissie dink so. Die saak het einde Januarie hervat.
  • Is daar 'n grootskaalse kartel onder melkverwerkers? Hoewel die kommissie se ondersoek byna afgehandel was, is die saak teen druktyd nog nie na die tribunaal verwys nie.

    Landbouweekblad, 8 Februarie 2008

0
 
 
  • 2247 keer gelees

Geborgde skakels


Plaassilo's - 'n Blink Gedagte

Kwaliteit Saad

Die toekoms is in jou land

In lyn met die boer

MSD Animal Health

Our brand new website

Daaglikse nuusbrief

Weeklikse nuusbrief

Teken In

  • Registreer as gebruiker
  • Wagwoord vergeet?

E-pos forum

  • Waarom is boere so stil?
  • Soek Atchar in Malelane/Komatipoort area.
  • Hoe meet jy as melkboer jou melk, per kg of liter
  • Boom Lusern en siektes
  • Nekklamp vir beeste
meer...

Gewildste stories

Vandag

  • Teenvoeter vir Johne
  • Kaap Agri vaar goed ná ontbondeling

Immergroen stories

  • RSS-voere
  • E-pos foto's aan ons

Pas gelees

  • Italiaanse sout kaaskoek
  • Bloktoetse en omrekenaar
  • Wie is ons?
  • Kontak ons
  • Gebruiksvoorwaardes
  • SMS-diens
  • RSS-voere
  • Teken in op LBW
  • LBW-argiewe
  • Vennote

Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24

Web Development by FormFunction