|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die Cartagena-protokol oor bioveiligheid, wat deur Suid-Afrika onderskryf word, gaan 'n groot invloed op graanhandel, die saadbedryf en landbounavorsing hê.
Die implikasies van dié protokol, wat die beweging van lewende gemodifiseerde organismes oor internasionale grense heen reguleer, is onlangs by 'n werksessie van AfricaBio, 'n vereniging van belanghebbers in biotegnologie, bespreek.
Dr. Willy de Greef, 'n internasionale kenner, het gesê graanhandel word veral geraak. "Die protokol skep 'n hele nuwe handelsomgewing wat vragte dokumentasie en klarings vir die verskeping van geneties gemodifiseerde (GM) mielies en ander GM bedryfsitems vereis."
Hy sê die grootste ontwrigting word veroorsaak omdat dié protokol die verantwoordelikheid van die dokumentasie op handelaars plaas, terwyl die verantwoordelikheid vir permitte steeds op die ontwikkelaars van die tegnologie rus. Stelsels om aan die protokol te kan voldoen, sal nie binne drie jaar gereed wees nie.
Dr. De Greef sê die saadbedryf sukkel om by die nuwe regulasies aan te pas. 'n Groot leemte is dat die protokol nie onderskeid tref tussen eksperimentele- en kommersiële saad nie. Aangepaste prosedures vir eksperimentele werk is voorheen ontwikkel en jare lank suksesvol toegepas.
In Suider-Afrika is die groot gaping in biotegnologie-regulasies tussen Suid-Afrika en sy vennote binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap 'n groot probleem. Die protokol neem nie tradisionele handelsroetes binne die streek in ag nie.
"Die sektor wat die meeste beïnvloed word, is die openbare landbounavorsingsgemeenskap. Die protokol is onderhandel met tegnologie-ontwikkeling deur groot multi-nasionale maatskappye in gedagte. In werklikheid geskied meer as die helfte van biotegnologiese navorsing in openbare navorsingsinstellings.
"Vir hierdie instellings is dit moeilik, en selfs onmoontlik, om 'n pad deur die regulatoriese beperkings te vind sodat die resultate van hulle werk benut kan word." Hy sê die regulatoriese klaring van 'n GM gewas wat internasionaal verkoop word, kos van R28 miljoen tot R56 miljoen en daar is geen aanduiding wie by openbare navorsingsprojekte daarvoor gaan betaal nie.
Prof. Jocelyn Webster, uitvoerende direkteur van AfricaBio, het gesê AfricaBio sal as koördineerder optree om staatsdepartemente, tersiëre instellings, die biotegnologiebedryf en navorsingsinstansies te help om die implikasies van die protokol te hanteer.
"Om aan die vereistes te voldoen, is tydrowend, ingewikkeld en duur en kan die ontwikkeling van GM gewasse belemmer tensy diegene betrokke by die bedryf kragte saamsnoer om sake te vergemaklik, bronne te deel en só geld te bespaar," het sy gesê.
14 November 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24