|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Danksy taamlik goeie veselpryse en die vergroting van sy markaandeel sal CMW se verwagte wins in die huidige boekjaar tot meer as R8,5 miljoen styg. Twee jaar gelede het die maatskappy nog 'n geakkumuleerde verlies van R9 miljoen gehad, uitsluitlik weens verliese in die afdeling vir lewende hawe.
Dié probleme is intussen reggestel en die maatskappy verwag wins in ál sy afdelings, het dr. Jan van der Westhuysen, besturende direkteur van CMW, aan die vooraand van die maatskappy se tienjarige bestaansviering gesê.
Volgens hom het CMW se bruto jaarlikse omset van R110 miljoen 'n dekade gelede tot meer as R700 miljoen vanjaar gegroei. Die maatskappy het sy posisie as die land se grootste bokhaarmakelaar gehandhaaf en is in die tweede plek wat wolhantering betref. CMW is ook betrokke by die bemarking van vee en was een van die eerste agente wat die internet suksesvol vir die doel ingespan het.
Hy sê die maatskappy hanteer sowat 14 miljoen kg wol- en bokhaar. Dit is bykans een derde van die land se skeersel, en 43 % van hoeveelheid wat in die Port Elizabethse katalogus opgeneem word. Sy pakstoor in Port Elizabeth is groot genoeg om 6 miljoen kg vesel meer te hanteer. "Trouens, ons is die enigste makelaar wat die afgelope 10 jaar voortdurend al hoe meer vesel gehanteer het."
Dr. Van der Westhuysen maak daarop aanspraak dat onafhanklike statistiek toon dat boere wat die afgelope vyf jaar wol- en bokhaar deur dié maatskappy bemark het, beter pryse as die gemiddelde markpryse ontvang het. "Die aandeel wat OVK 'n jaar gelede in CMW gekry het, was vir albei maatskappy se klante voordelig."
Hy glo openbare veilings sal nog lank gebruik word, maar dat alternatiewe deurentyd ondersoek moet word. Daar is bepaalde nismarkte in die wêreld waar die regte hoeveelhede uitstekende vesel regstreeks bemark kan word.
Ondanks die jongste prysdalings is hy oortuig dat wol- en bokhaarboerdery steeds 'n goeie toekoms het. Die feit dat CMW baie kapitaal in vaste eiendom en dienste belê het, is 'n aanduiding van sy langtermynverbintenis tot die land se veebedryf, het hy bygevoeg.
30 Mei 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24