|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het 'n klag van verwaarlosing teen die eienaars van die Dipelaneng-varkboerderyprojek in die omgewing van Hobhouse in die Vrystaat gelê.
Volgens inspekteur Kingstone Ziziba van die DBV is tydens 'n besoek aan die plaas ('n regeringsprojek vir opkomende boere) op 29 Maart gevind dat die varke erg verhonger is.
"Die varkhokke was vuil en stinkend. In sommige hokke was daar vuil water en nie kos nie. In nog hokke was nie kos of water nie. Geen beddegoed is vir enige van die varke voorsien nie. Die maer sôe wat geïnsemineer was, was ons grootste bekommernis. 'n Sog in een van die kratte was baie swak en ons het gedink dit kan wees omdat sy nie eet nie. Sy het 'n bietjie kos wat aan haar gegee is, gretig verslind en die ander sôe het begin skreeu van die honger en teen hul kratte opgestaan."
Volgens Ziziba is 'n waarskuwing uitgereik. Op 5 April is die projek weer besoek, maar daar was geen verbetering nie. 'n Plaaswerker het glo gesê dat daar nie kos is om vir die varke te voer nie.
"Ons is deur die opleidingsproses, maar daar was geen vordering nie. Ons het raad gegee, gemonitor en aanbevelings gedoen. Om die waarheid te sê, ons het alles binne ons vermoë gedoen om te help, behalwe om self die bestuur van die plaas oor te neem. Vervolging is die enigste alternatief. Ons het hier met lewende diere te doen wat erg ly weens honger en verwaarlosing," het Ziziba gesê.
Volgens hom is die feite aan die hoofontwikkelingsbeampte op Ladybrand, wat in beheer van die projek is, gestel. Sy verskoning was dat die probleme ontstaan het weens 'n tekort aan geld.
Ziziba het hom daarop gewys dat die DBV bewus is daarvan dat die projek met die aanvang daarvan 'n toelae van R1,5 miljoen van die Regering ontvang het en daarna weer toekennings van R30 000 en R300 000 gekry het. Van dié geld is glo belê om rente te verdien.
Ziziba het gesê die projek sal nou streng gemonitor word om toe te sien dat die res van die varke op die plaas nie verder verwaarloos word nie.
23 April 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24