|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die samestelling van die Strategiese Plan vir die Landbou en die suksesvolle bestryding van bek-en-klou-seer word uitgesonder as twee van die mees geslaagde projekte van die nasionale Departement van Landbou vir die tydperk April 2001 tot Maart 2002.
Volgens dié verslag wat pas in die parlement ter tafel gelê is, was die mikpunt met die strategiese plan om die strewes van almal wat by die landbou betrokke is, te verenig. Die kern van die plan is gelyke deelname vir almal aan die landbou, internasionale mededingendheid en volhoubare hulpbronbestuur.
Oor die bestryding van bek-en-klou-seer het me. Thoko Didiza, Minister van Landbou, gesê dit was 'n vertoning van bekwame leierskap, wetenskaplike kundigheid en tegnologiese vooruitgang by die departement.
Die uitwissing van bek-en-klou-seer het dit moontlik gemaak dat Suid-Afrika weer tot bek-en-klou-seervrye gebied verklaar kon word. In die veldtog om te bepaal of dié siekte nog aanwesig is, is 10 826 diere getoets en almal was vry van die SAT1-, SAT2- en O-tipe virus.
Gedurende die verslagjaar is 450 000 ha staatsgrond aan 3 854 nuwe boere oorgedra. 'n Verdere 65 is ook in uitvoerbedrywe soos sitrus, wyn en druiweproduksie gevestig.
Volgens die verslag het die departement 'n herstrukturering ondergaan om sy onderskeie afdelings te rig op die hoofdoelwitte van die sektor. Die vyf hoofvertakkinge is landbou-ekonomie en sake-ontwikkeling, landbouproduksie en hulpbronbestuur, operasionele bestuur en regering, sowel as programbeplanning, monitering, evaluering en kommunikasie.
In 'n ekonomies oorsig sê die verslag die bruto inkomste uit landbouprodukte het met 15 % tot R52,7 miljard toegeneem. Gewasproduksie het met 17,9 % tot R16,5 miljard toegeneem, tuinbouprodukte met 11,3 % tot R13,4 miljard en diereproduksie met 15 % tot R22,7 miljard.
Produksiekoste het met 13,7 % tot R29,1 miljard gestyg. Hiervan was voer 22,9 %, onderhoud en herstelwerk 14,9 %, brandstof 11,2 % en misstof 9,9 %.
Die pryse wat boere vir produkte ontvang het, het met 14,2 % gestyg teenoor 'n styging van 5,7 % die vorige jaar.
18 Oktober
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24