|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Soggens is dit nog donker as Michael
Eby melkstal toe stap om
sy dagtaak op sy plaas in Pennsilvanië
te begin. Dan sien hy die
vertroude buitelyne van die drieverdiepingskuur uit die diep skemer opdoem.
Net soos sy pa, sy oupa en sy oupagrootjie
voor hom.
Die reuse-skuur is al 250 jaar lank die
middelpunt van die daaglikse bedrywighede
op Pequea Farm, tussen die dorpe
Intercourse en Paradise in Pennsilvanië se
geskiedkundige Lancaster-distrik.
Die skuur toring oor die res van die buitegeboue
soos 'n hen wat oor haar kuikens
waghou. In die klipmuur is die name van
Michael se voorvaders uitgekerf - vyf van
hulle. Hulle het oor 180 jaar die een ná die
ander 'n lewe uit die omliggende grond gemaak
voordat Michael agt jaar gelede die
boerdery se leisels oorgeneem het.
Een verskriklike herfsnag drie jaar gelede
het die skuur met 30 Holstein-koeie, omtrent
2 000 hooibale en 'n klomp plaastoerusting
afgebrand. Dit sou dalk makliker
gewees het om die klipmurasie wat ná die
brand staande gebly het, plat te stoot en van
voor af 'n nuwe, kleiner skuur te bou. Maar
daardie uitgekerfde name het die deurslag
gegee: "My oor-oupagrootjie het sy naam
in 1869 op daardie muur gelaat. Dis iets wat
nie vervang kan word nie," het Michael destyds
aan die plaaslike koerant gesê.
Honderde vrywilligers, die meeste
Amiese boere van plase in die omgewing,
het die volgende week uit die bloute opgedaag
om die skuur op sy oorspronklike
klipmure te help herbou. Die vroue van die
omgewing het gehelp om die bouers elke
dag op tafels buite kos te gee.
Die Ebys sê hulle sal altyd onthou hoe
Amiese bure die oggend ná die brand van
alle kante oor die omringende lande en weikampe
aangestap gekom het om gratis hulp
te kom aanbied. (Die Amiese geloof verbied
die gebruik van enjins. Amiese mense gebruik
nie voertuie nie; as dit te ver is om te
stap, ry hulle perdekar of skopfiets.)
Binne weke was die herboude skuur
weer 'n baken op die skilderagtige plaaslandskap
- grootliks danksy die ruimhartige
buurmanskap en meesterlike houtwerk
waarvoor die Amiese mense bekend is.
Lancaster is een van Amerika se vrugbaarste
landboustreke. Dit is ook 'n bastion
van familieboerdery, dalk 'n laaste een.
In 'n tyd waarin korporasies en die skaalekonomie
al hoe meer familieboerderye
elders in Amerika tot 'n val bring, word
meer as 99% van Lancaster se sowat 5 300
plase nog deur families besit en bewerk.
Honderde is al geslagte lank in dieselfde familie
se besit. Dié boere is dikwels Amiese
Doopsgesindes of Mennoniete, die twee
tradisievaste geloofsgroepe waarvoor Lancaster
bekend is, en wat dié landskap oor
drie eeue gevorm het.
Duitse immigrante op soek na godsdiensvryheid
het in die vroeë 1700's dié
wêreld begin bewerk. Die Ebys, wat Mennoniete
is, se stamvader was een van hulle.
Die immigrante se besonderse boerderyvaardighede,
die vrugbare grond en die gematigde
klimaat was 'n doeltreffende kombinasie.
Twee eeue gelede het Lancaster al
as die Tuin van Amerika bekend gestaan en
vandag is dit steeds die produktiefste nie besproeide
streek in die hele Amerika.
Die onderverdeelde plase is veel kleiner
as honderd jaar gelede - die gemiddelde
grootte is maar sowat 32 ha. Dit is amper
raaiselagtig hoe meer as 5 000 boeregesinne
dit regkry om in 'n era van kwynende
boerderywinste steeds op daardie lappies
grond 'n behoorlike bestaan te maak. (Amper
net so ongelooflik soos om te sien hoe
die Amiese mense met hul perdekarretjies
en handploeë steeds soos in die 1800's leef.)
Die mense van Lancaster werk hard om
hul familieplase teen die genadelose aanslae
van die moderne landbou-ekonomie
te bewaar. Plaaslike inwoners het die Lancaster
Farmland Trust, 'n organisasie sonder
winsoogmerk wat deur vrywilligers
bestuur word, tot stand gebring om landbougrond
teen ontwikkeling te beskerm.
Die trust betaal plaaseienaars wat 'n onderneming
teken om hul grond vir altyd vir
landbougebruik te behou.
So 'n beskerming van landbougrond
teen ontwikkeling is ook elders in Amerika
algemeen. Lancaster se trust is so suksesvol
dat Lancaster pas die Amerikaanse distrik
geword het waar die meeste plaasgrond
(amper 'n vyfde van die totale landbouoppervlakte)
deur so 'n permanente bewaringsooreenkoms
beskerm word.
Die trust word op kreatiewe maniere
gefinansier. Die Strasburg-stoomtreinmaatskappy,
wat toeriste op 'n skommelende
reis tussen die historiese Lancaster-plase
deur neem, betaal 'n persentasie van elke
kaartjie aan die Farmland Trust oor. Turkey
Hill, 'n plaaslike suiwelfabriek wat sy produkte
in etlike Amerikaanse state verkoop,
skenk 'n deel van sy inkomste uit roomys
aan die trust.
Die familieboere het elke ekstra hupstoot
nodig, want ondanks die gunstige
boerderytoestande voer boere soos Michael
Eby 'n voortdurende bestaanstryd.
Toe hy destyds besluit het om die boerdery
by sy pa, Melvin, oor te neem, was hy
'n suksesvolle KI-agent in 'n betalende beroep
en met 'n jong gesin. Sy pa se raad was
dat hy dit nie vir die boerdery moet laat
vaar nie, maar Michael se gene het waarskynlik
harder as sy eie beterwete en sy pa
se raad gepraat.
Michael en sy vrou, Lynette, het in 1999
met drie klein kinders (die kroos het intussen
vier geword) in die rooibaksteenopstal
agter die skuur, aan die Pequea-stroom, ingetrek.
Sy oor-oupagrootjie het die huis in
1814 gebou.
Michael se pa en ma het hul aftreehuis
'n ent met die pad af gebou, en sy pa het sy
werk as KI-agent oorgeneem om die huishouding
se geldsake te laat klop.
Michael huur sedertdien die
plaas van sy pa. Hy het oor die afgelope
sewe jaar koei vir koei die
melkkudde van sy pa gekoop. Sy
jaarlikse wins is egter nie genoeg
om eens belasting te betaal nie;
wat beteken hy en sy gesin kom
nie in aanmerking vir lidmaatskap van
Medicaid, die staatsgesubsidieerde mediese
fonds, nie. Hy betaal ten duurste vir
die mees basiese mediese versekering - 'n
uitgawe wat al hoe minder Amerikaanse
middelklas-gesinne, ook dié met 'n goeie
salaris, deesdae kan bekostig.
Lynette bedryf steeds die een helfte van
die plaashuis as 'n gastehuis, soos wat haar
skoonma veertig jaar gelede begin doen het.
Dié inkomste sorg in die meeste maande
vir kruideniersware en dinge soos Kers- en
verjaardaggeskenke.
Michael behartig op sy eie die melkery
van 52 Holstein-koeie,wat hy twee keer per
dag melk. Naweke help Lynette hom in die
melkstal. In die week onderrig sy self hul
vier kinders.
Michael sê self hy doen die werk van een
en 'n halwe man. Om 'n ekstra werker in
diens te neem, sal hy die melkstal wat vir
52 koeie ingerig is,moet vergroot - iets wat
hy nie nou kan bekostig nie.
Hy erken ruiterlik die regeringsubsidies
waarvoor Amerika om internasionale onderhandelingstafels
gekasty word, het hom
al minstens een keer van ondergang gered.
Dié subsidies,wat aan boere betaal word as
die produsenteprys vir 'n bepaalde tydperk
onder 'n voorgeskrewe vlak val, het voorkom dat
hy in 2003 moes uitverkoop.
"Natuurlik sou ek graag wou sê die subsidies
moet afgeskaf word, maar daarsonder
sou ek nie meer hier gewees het nie,"
sê Michael.
Sy seun, Jackson, is 'n sewejarige haasbek wat waarskynlik
dieselfde liefde vir die
grond geërf het. As Michael gevra word of
hy meen Jackson sal eendag wil boer, sê hy
die mannetjie is nog jonk, dis te gou om
nou al te weet.
Hy dink 'n bietjie langer oor of daar vir
Jackson, as hy sou wou, 'n toekoms as die
sewende Eby op Pequea Farm sou wees:
"As ek régtig eerlik moet wees, nee." Dis
duidelik dat hy ook nie meen een van Jackson
se drie sussies sou die familieboerdery
kon voortsit nie, al wou hulle.
'n Mens kan maar net hoop dat Michael
Eby hieroor verkeerd is.
Landbouweekblad, 25 April 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24